|

AfriForum-buurtwagte in Potgietersrus en Pietersburg trek kapers vas

AfriForum se buurtwagte in Potgietersrus en Pietersburg het op 15 Oktober die polisie bygestaan om die vermeende kapers van ’n sigaretafleweringsvoertuig vas te trek.

Die buurtwagte het inligting ontvang oor dié voertuig wat in Potgietersrus gekaap is. Tydens die voorval is die bestuurder van die voertuig in sy skouer en maag geskiet, terwyl die passasier ook in die skouer geskiet is. Albei is na ’n hospitaal geneem vir waarneming.

Die verdagtes het aanvanklik met die gekaapte voertuig gevlug, waarna hulle dit weer vinnig naby die kapingstoneel agtergelaat het. Videomateriaal het getoon dat ’n wit Volvo-stasiewa tydens die kaping gebruik is.

In ’n gesamentlike operasie met die SAPD het die buurtwagte uitkykpunte op die N1, R101 en by strategiese toegangsroetes in en om Potgietersrus opgestel. Buurtwaglede het die dorp ook gepatrolleer om die voertuig op te spoor. Tydens die operasie het ’n buurtwaglid die Volvo in die dorp sien ry. Hy het die voertuig agtervolg en deurlopend inligting vir die buurtwag deurgegee. Die voertuig het by ’n winkelsentrum stilgehou, waarna die SAPD en die buurtwag die parkeerarea omring het. Die een insittende het by die beskrywing van een van die verdagtes gepas. Die SAPD het in samewerking met die buurtwag inbeweeg en drie verdagtes in hegtenis geneem.

Hennie de Vos, voorsitter van AfriForum se Potgietersrus-buurtwag, bedank die buurtwaglede en SAPD vir hul doeltreffende samewerking. “Met ’n sukses soos hierdie wys die buurtwag en SAPD dat wanneer daar gedissiplineerde optrede en samewerking is, kan ons die gemeenskap beveilig. Sodoende skep ons ruimte vir ’n veilige en voorspoedige voortbestaan.”

“Samewerking tussen buurtwagte van verskillende dorpe is van kardinale belang om sukses te verseker. Hierdie provinsiale en nasionale integrasie van AfriForum-buurtwagte gee ons ’n voorsprong in die bekamping van misdaad,” sê Marius Fourie, voorsitter van AfriForum se Pietersburg-tak.

Sluit vandag nog by AfriForum se Potgietersrus-buurtwag aan: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings