|

AFRIFORUM-BUURTWAGTE IN PRETORIA HOU SAAM ’N SIGBAARHEIDSPATROLLIE

AfriForum se tak in Moreletapark het op 10 Februarie ’n sigbaarheidspatrollie in Moreletapark en omliggende gebiede gehou in samewerking met verskeie ander AfriForum-buurtwagte. Die patrollie het begin by die Grootfontein Landgoed en het van18:00 tot 21:00 geduur. Die ander buurtwagte wat deelgeneem het, sluit in die Moot, Oos-Moot, Grootfontein en Centurion. Die sekuriteitsmaatskappye Bull Security en Monitor Net het ook deelgeneem.

Die primêre doel van die patrollie was om sigbaarheid te verbeter en om eenheid tussen die verskillende rolspelers te toon. Sigbaarheid oor buurte se grense heen is belangrik om misdadigers af te skrik. Hoe meer sigbaar ’n buurtwag is, hoe veiliger voel die gemeenskap. Altesaam 32 patrolleerders van AfriForum het in 16 voertuie deelgeneem.

“Die impak van ’n gewone sigbaarheidspatrollie moet nie onderskat word nie. Mense het uit hul huise gekom om die buurtwaglede te groet en hul dank te betoon. Hierdie patrollies maak dit moeiliker vir misdadigers om hul kriminele dade uit te voer,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Gauteng.

“Hierdie sigbaarheidspatrollie waar AfriForum-buurtwagte saamwerk om misdaad te beveg en om mense te mobiliseer, bewys weereens wat gemeenskappe alles kan vermag as hulle saamstaan. AfriForum sal aanhou om gemeenskappe te ondersteun en te help om ’n beter omgewing vir elkeen te skep,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan om vanjaar verskeie groot projekte aan te pak en wil die gemeenskap graag uitnooi om meer betrokke te raak. Besoek gerus die AfriForum-tak in Moreletapark se Facebook-blad en sluit ook by die Telegram-groepe aan.

Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Moreletapark” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings