AfriForum-buurtwagte in Kalahari-distrik neem aan nasionale massapatrollie deel


AfriForum se buurtwagte in Kuruman, Kathu, Upington en Danielskuil het die afgelope naweek in samewerking met ander veiligheidsinstansies en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan dié burgerregtewaghond se nasionale massapatrollie deelgeneem.
Die patrollie het Vrydagaand om 19:00 begin en tot 2:00 Saterdagoggend geduur. Nagenoeg 156 patrolleerders het die strate van die onderskeie dorpe gepatrolleer en 2 987 km is afgelê.

“Die patrollie was op misdaadvoorkoming en die sigbaarheid van veiligheidstrukture gemik,” sê Gonda Louw, AfriForum se streekskoördineerder vir die Noord-Kaap.

In Kuruman het van die buurtwag se reaksiespanne in samewerking met die SAPD ’n gesteelde voertuig opgespoor. Die beheerkamer in Kuruman word deurlopend beman en daar is ook kameras in die dorp waarvan die beeldmateriaal gemoniteer word.
AfriForum wil elke buurtwaglid bedank vir hul deelname aan die nasionale massapatrollie, asook die SAPD en elke privaat instansie wat deelgeneem het.
Skakel Gonda Louw by 081 217 1752 indien jy ’n buurtwag in jou dorp wil stig. As alternatief kan jy “Buurtwag” na 32532 SMS (R1).

Soortgelyke plasings