AfriForum-buurtwagte in KOSH-streek neem aan nasionale patrollie deel


Die AfriForum-buurtwagte in die KOSH-streek – Klerksdorp, Orkney, Stilfontein, en Hartbeesfontein – het op 19 Oktober 2018 aan ’n nasionale patrollie deelgeneem. Die Orkney-buurtwag is pas gestig en het tydens dié patrollie by die Stilfontein-buurtwag ingeskakel.

AfriForum se KOSH-buurtwagte en 80 patrolleerders het altesaam meer as 1 800 km in 41 voertuie afgelê. Verskeie voorvalle, hoofsaaklik dronkbestuur, is suksesvol in samewerking met die SAPD hanteer.
Ander veiligheidsinstansies soos sekuriteitsmaatskappye, gemeenskappolisiëringsforums (GPF’s), die SAPD en ander privaat buurtwagte het saam met AfriForum aan die patrollie deelgeneem.

“Die nasionale patrollie was weer eens ’n groot sukses. Ons vertrou dat bande met ander veiligheidsinstansies, insluitend die SAPD, daardeur gesmee is,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
“AfriForum moedig gemeenskappe aan om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Kontak jou plaaslike buurtwag en vind uit hoe jy by die bekamping van misdaad in jou gemeenskap betrokke kan raak. Selfs ’n uur of twee per week maak ’n reuseverskil,” sluit Nel af.

Raak by AfriForum se buurtwag betrokke en help om jou gemeenskap te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings