| |

AfriForum-buurtwagte lê meer as 94 000 km af tydens nasionale patrollie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die afgelope naweek nagenoeg 132 gemeenskappe regoor die land gemobiliseer om aan ’n nasionale patrollie deel te neem.

Sowat 3 500 AfriForum-lede en 1 822 ander veiligheidsrolspelers het aan die nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie is met 2 733 privaat voertuie uitgevoer en altesaam 94 289 km is afgelê. Meer as 187 voorvalle is suksesvol tydens die patrollie hanteer. AfriForum het weer eens daarin geslaag om 91% van veiligheidstrukture te mobiliseer, wat as uiters suksesvol beskou kan word. Die deeglike voorbereiding van die veiligheidstrukture kan as ’n bydraende faktor tot misdaadbekamping beskou word.

Ander instansies wat deelgeneem het sluit verskeie privaat buurtwagte, sekuriteitsmaat­skappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike sake­ondernemings, paramediese dienste en plaaslike verkeersdepartemente in.

Die doel van die nasionale patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer en ook om sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers te verbeter op sowel nasionale as op plaaslike vlak.

“Met die feesseisoen om die draai is voorkomende optrede soos hierdie van uiterste veiligheidsbelang omdat gemeenskappe in samewerking met die SAPD en ander instansies eienaarskap neem van hul eie veiligheid. Die patrollie bewys weer eens hoe belangrik dit vir gemeenskappe is om hulself weerbaar te maak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

“Die feit dat gemeenskapslede betrokke raak by veiligheidstrukture skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp bewustheid en waaksaamheid om misdaad in gebiede hok te slaan. Goeie samewerking tussen buurtwagte, die SAPD en plaaslike veiligheidsinstansies stel die veiligheidstrukture van AfriForum in staat om meer suksesvolle optredes soos hierdie te kan uitvoer en die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

“Proaktiewe optredes soos dié sigbaarheidspatrollies skep hoop in gemeenskappe. Dit is noodsaaklik dat hierdie soort projekte gereeld saam met alle veiligheidsrolspelers in ’n gemeenskap aangepak word,” sluit Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings