| |

AfriForum-buurtwagte in Mpumalanga ontvang opleiding


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 13 Julie 2019 opleiding in verskillende veiligheidsmodules vir verskeie Mpumalanga-buurtwagte aangebied. Buurtwagte van Piet Retief, Witrivier, Middelburg, Nelspruit, Lydenburg, Machadodorp, Delmas, Argent, Secunda en Standerton het hierdie opleiding bygewoon.

Die modules wat behandel is sluit regsaspekte, toneelhantering, huis-en-haardbeskerming, asook die bedryf van inligting in.

“Hierdie tipe opleiding is uiters belangrik vir AfriForum-buurtwagte om te verseker dat ons buurtwaglede die regte prosedures volg tydens kriminele oortredings. Dit verseker ook dat lede te alle tye binne die raamwerk van die wet optree,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.
“Opleiding rus AfriForum se buurtwagstrukture toe met die nodige kennis en stel buurtwaglede en die gemeenskap gerus tydens buurtwagaktiwiteite,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

’n Verteenwoordiger van Loyalty Life het ook tydens die sessie die voordele van AfriForum se buurtwagbeskermerversekeringspolis aan die lede verduidelik. Die buurtwagbeskermer is ’n polis wat AfriForum aan al sy buurtwaglede bied en hulle toegang tot ambulanse, helikopters en die EVAC24-beheerkamer gee wat in tye van nood die naaste nooddienste ontbied en jou na die naaste, mees geskikte hospitaal sal neem met gewaarborgde opname.
Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings