AfriForum-buurtwagte in Nylstroom en Warmbad ry patrollie


AfriForum se Nylstroom-buurtwag en die organisasie se Warmbad RSRT (Rural Safety Response Team) het op 4 en 6 Julie patrollies onderneem. Die doel van die patrollies was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog nadat dié twee dorpe onlangs onder ’n vlaag inbrake deurgeloop het. Die Warmbad RSRT het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewerk.

Ernine Wepener, internskapstudent by AfriForum, sê die patrollies was ’n groot sukses met geen insidente wat plaasgevind het nie. “Dit is lekker om die positiewe verskil te sien wat vrywilligers in ’n dorp kan maak.”
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is die samewerking tussen die buurtwagte en die SAPD van kardinale belang. “AfriForum werk graag saam met alle instansies wat veiligheid in die gemeenskap bevorder.”

AfriForum se Nylstroom-buurtwag het ook tydens die patrollie insidentinoefening gehou om die buurtwag se reaksietyd op te skerp.
AfriForum moedig die gemeenskap aan om by hul plaaslike veiligheidstruktuur betrokke te raak: SMS “Veiligheid” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings