AfriForum-buurtwagte in Oos-Rand neem aan nasionale patrollie deel


Die AfriForum-buurtwagte in die Oos-Rand – wat Alberton, Benoni, Brakpan, Edenvale, Germiston, Kempton Park, Springs en Endicott insluit – het op Vrydag 19 Oktober 2018 aan ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede deelgeneem. Dié patrollie het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteits­maatskappye en veiligheidsinstansies plaasgevind.

Altesaam 299 patrolleerders, wat sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies insluit, het opgedaag om ’n bydrae te lewer. ’n Totaal van 9 890 km en 1 240 manure is met 188 voertuie afgelê. Geen ernstige misdaadvoorvalle is aangemeld nie. Die patrollie, met die doel om polisiëringsigbaarheid op te skerp, het omstreeks 18:00 begin en tot 6:00 die volgende oggend geduur.

“Die Oos-Rand se buurtwagte sal voortdurend soortgelyke projekte en gereelde patrollies in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies aanpak in ’n poging om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Raak by AfriForum se buurtwag betrokke en help om jou gemeenskap te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings