|

AFRIFORUM-BUURTWAGTE VERHOOG SIGBAARHEID OM KOPERDIEWE AF TE SKRIK

AfriForum se Pietersburg- en Potgietersrus-buurtwag het op 10 April 2021 ’n sigbaarheidsaksie onderneem in die Eerstegoud-, Ysterberg-, Kuschke- en Eersteling-gebied tussen Pietersburg en Potgietersrus op die R101. Dié omgewing het die voorafgaande week erg deurgeloop met diewe wat die Eskom-teerpale afsny en dan die koperkabels steel.

“Eskom herstel die krag en dan word dieselfde kraglyn twee uur later weer beroof,” sê Marius Fourie, voorsitter van AfriForum se Pietersburg-tak. “Die gemeenskap is al raadop omdat hulle vir byna twee dae aaneen sonder krag was en daar byna elke aand weer diefstal plaasvind. Die kragkabeldiefstal langs die R101 vind die meeste van die tyd tussen 23:00 en 02:00 plaas.”

Die buurtwagte het die sigbaarheidsaksie om middernag uitgevoer en lede van die Leuwkuil- en Thorncastle-gemeenskapspolisiëringsforums het dit ook bygewoon. Die hele gebied is in blokke verdeel en drie spanne van ongeveer tien lede elk het hierdie blokke gepatrolleer.

“Deur ons teenwoordigheid sigbaar te maak in die omgewing wys ons vir misdadigers dat ons paraat is. Daar was die afgelope twee nagte nie weer kabeldiefstal in die area aangemeld nie. Die gemeenskap moet hierdie patrollies nou gereeld in die area voortsit. Slegs deur volgehoue dissipline en paraatheid sal hierdie area veilig word. Daarom nooi ons graag almal uit wat in die omgewing woon om by AfriForum se Pietersburg-tak en -buurtwag betrokke te raak,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwagte in Limpopo, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings