AfriForum dagvaar Panyaza Lesufi vir laster

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, vir laster gedagvaar. Dit volg nadat Lesufi AfriForum op 24 November 2019 valslik daarvan beskuldig het dat dié organisasie onder meer poog om ’n “sluipmoord” op hom uit te voer.

AfriForum het Lesufi amptelik versoek om sy stelling terug te trek – wat hy nie gedoen het nie. Lesufi kon egter ook nie enige bewyse van dié sogenaamde “sluipmoordpoging” verskaf nie. AfriForum se dagvaarding eis onder meer dat Lesufi onvoorwaardelik verskoning vra vir sy beskuldiging en dat hy moet instaan vir die regskoste van die saak.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit tyd dat Lesufi verantwoordbaar gehou word vir sy polariserende uitsprake en verregaande leuens.

“Lesufi het gepoog om sy vendetta teen Afrikaanse skole te verdoesel deur leuens te verkondig dat hy kwansuis die teiken sou wees van pogings om ’n sluipmoord te pleeg.”

Kriel sê voorts dit is jammer dat iemand soos Lesufi se drang na aandag en publisiteit so sterk geraak het dat hy selfs bereid is om lawwe samesweringsteorieë te verkondig.

“AfriForum is trots op die feit dat ons vreedsaam en op ’n demokratiese wyse te werk gaan om ons doelwitte te bereik, en daarom kan ons nie toelaat dat AfriForum valslik as sluipmoordenaars voorgehou word nie.”

Lesufi word tot middel Julie gegun om aan te dui of hy AfriForum se dagvaarding gaan teenstaan.

Lesufi se twiet dat AfriForum se dagvaarding met sy uitsprake oor Orania verband hou, is net nóg ʼn leuen van Lesufi. Die dagvaarding is reeds die oggend van 22 Junie beteken, terwyl Lesufi se twiet oor Orania eers laat op dieselfde dag geplaas is.

Soortgelyke plasings