AfriForum deel van Provinsiale Landelike Veiligheidskomitee in KZN


Die burgerregte-organisasie AfriForum is reeds ‘n jaar deel van die Provinsiale Landelike Veiligheidskomitee in KwaZulu-Natal, wat bestaan uit verskeie SAPD-rolspelers, asook staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die departement van vervoer, die Nasionale Vervolgingsgesag en ander regeringsorganisasies.
Die komitee vergader maandeliks by die SAPD-hoofkantoor in Durban, waartydens landelike misdaad en probleme bespreek word en alle rolspelers insette lewer. Tydens die komitee se eerste vergadering vir 2018 wat op Woensdag, 10 Januarie gehou is, het AfriForum voorgestel dat tegnologie soos sintetiese DNS gebruik word om die hoë vlakke van veediefstal te help bekamp. Dié organisasie is besig om voor te berei om binnekort ’n voorlegging aan die komitee in dié verband te doen.

“Ons hoop om die ondersteuning van die LUR vir gemeenskapsveiligheid, asook die department van landbou te kry om dié tegnologie ten volle in die stryd teen landelike misdaad te kan gebruik,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum nooi gemeenskappe om by hul plaaslike veiligheidsnetwerke betrokke te raak deur by hul naaste AfriForum-tak aan te sluit. Maak ’n verskil: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings