|

AfriForum deel wenke vir veiligheid op paaie

In die lig van die onlangse toename in aanvalle op bedrywige paaie in die Bronkhorstspruit-omgewing, het die burgerregte-organisasie AfriForum vandag wenke gegee hoe motoriste veiliger op paaie in die gebied kan wees.

Dít volg nadat taxipassasiers verlede Donderdagaand op ʼn besige pad in die Bronkhorstspruit-area beroof en met messe aangeval is nadat die taxi deur rowers voorgekeer is. Saterdagoggend is ʼn vragmotorbestuurder wat langs die pad stilgehou het om ʼn uiltjie te knip, ook in die bagasieruim van ʼn silwer BMW ingedwing en eers 30 km verder uitgeboender en aan ʼn boom vasgemaak.

Volgens Tarien Cooks, veiligheidskoὃrdineerder by AfriForum, is daar sekere gevaartekens waarvoor motoriste veral saans en op besige paaie soos dié moet uitkyk.

“Motoriste moet waaksaam wees en nie uit hul motors klim om klippe, sakke of enige voorwerp wat ʼn moontlike versperring op ʼn pad kan wees, te verwyder nie. Jou lewe is belangriker as jou voertuig.”

Cooks meen dit maak motoriste kwesbaar en skep die perfekte geleentheid vir rowers om hulle aan te val.

“Vermy dit ook om stil te hou waar pad- en straatligte nie werk nie of waar bosse en hoë gras groei. Dit is altyd veiliger om stil te hou by ʼn vulstasie of area waar daar meer mense en beligting is.”

Verder waarsku Cooks ook motoriste teen uitputting en die behoefte om soos die vragmotorbestuurder ʼn uiltjie te knip langs die pad.

“Dit is veiliger om die nag êrens oor te bly of deur die dag te bestuur op ʼn lang pad. Indien vragmotorbestuurders by ʼn vulstasie wil rus, is die veiligste om direk voor die ingang te stop waar daar mense en goeie beligting is.”

Sy sê voorts dat hoewel dié spesifieke pad ʼn teiken is vir misdaad, moet motoriste op enige pad waaksaam wees, hetsy dit in die stad of hul woongebied is. “Die voorvalle op die Bronkhorstspruit-pad kan op enige besige pad gebeur, motoriste moet altyd versigtig wees,” meen Cooks.

Die burgerregte-organisasie se Bronkhorstspruit-tak beoog om kontak te maak met die eienaar van die Rosehaven South-vulstasie wat op die Bronkhorstspruit-pad geleë is om maniere te bespreek waarop die tak die vulstasie kan ondersteun om veiligheid op dié pad te verbeter.

Om aan te sluit by jou naaste buurtwag, stuur ʼn epos aan veiligheid@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings