|

AFRIFORUM: DIÉ WEEK SE HOOGTEPUNTE

Dit was ’n besige week vir AfriForum op verskeie fronte. Verskeie takke het aan massapatrollies deelgeneem en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het selfs ’n mondelingse voorlegging by Krieket Suid-Arika (KSA) gemaak.

Kriel het Dinsdag ’n voorlegging aan KSA se Social Justice and Nation Building- (SJN-)paneel gemaak waarin hy verduidelik het hoekom dit tyd is om van die kwotastelsel in krieket ontslae te raak.

Volgens Kriel is AfriForum sterk gekant teen enige vorm van rassisme en rassekwotas in sport. Hy glo dat daar eerder pogings aangewend moet word om te verseker dat elke jong atleet toegang tot fasiliteite en goeie afrigting kry. “Slegs op dié wyse sal die land se talent ten volle kan ontwikkel en daar verhoed kan word dat spelers se waardigheid al op skoolvlak deur rasgebaseerde spankeuses geskend word,” sê Kriel.

’n Sespuntplan vir sportontwikkeling is as alternatief voorgestel.

AfriForum Jeug het op 31 Julie in samewerking met lede van die Rapportryers, die Voortrekkers en Landsdiens ’n skoonmaakaksie by die Konsentrasiekampmonument in Kimberley aangepak.

AfriForum Jeug het die Konsentrasiekampmonument in Kimberley skoongemaak.

Daar is ook in Potchefstroom ’n skoonmaakaksie van stapel gestuur. Ongeveer 15 lede van AfriForum se Potchefstroom-tak het saamgewerk om die Alexanderpark-begraafplaas op te ruim. Altesaam sewe bakkievragte vol tuinvullis is weggery.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het hierdie week die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein en die Laerskool en Hoërskool Bultfontein besoek. “Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

AfriForum se Witrivier-buurtwag het ’n nuwe mobiele beheerkamer vir die buurtwag tydens dié burgerregteorganisasie se nasionale massapatrollie bekendgestel. Die beheerkamer is binne-in ’n Toyota Quantum-bussie ingebou. ’n Deel van die bussie se sitplekke is verwyder en daar is stoorplek ingebou vir die buurtwag se toerusting.

Behalwe vir Witrivier het verskeie buurtwagte van Limpopo tot in die Wes-Kaap aan die massapatrollie op 30 en 31 Julie deelgeneem. “Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Massapatrollies is regoor die land gehou en kos is gemaak om honger mae vol te hou.

AfriForum het ook die afgelope week hande met verskeie organisasies gevat om verdere noodverligting aan gemeenskappe in KwaZulu-Natal te lewer terwyl die naskokke van die onlangse plundering steeds gevoel word.

Soortgelyke plasings