|

AFRIFORUM DIEN HAATSPRAAK-KLAG BY GELYKHEIDSHOF TEEN MALEMA IN OOR KILL THE BOER-LIED

Deur Alet Rademeyer

Julius Malema, die EFF en die ondersteuners van dié party móét gedwing word om op te hou om liedere te sing wat haatspraak en geweld aanhits.

Hul optrede verhoog onnodige rassespanning in die land en druis in teen ’n  vreedsame demokrasie.

Om dié rede het AfriForum vandag haatspraak-klagtes teen Malema en sy party by die Hooggeregshof, wat as die Gelykheidshof sit, geliaseer.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê liedere wat geweld teen boere aanhits word deur die EFF geromantiseer, terwyl plaasmoorde ’n werklikheid in die land is.

Die haatspraak-klag fokus op die besonderse konteks waarin die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” gesing het en verwys na verskeie ander geleenthede waar die party en sy leiers die lied, wat reeds tot haatspraak verklaar is, gesing het. Die aansoek steun ook op die 2011-skikking tussen AfriForum en Malema, toe ’n bevel van die Hoogste Hof van Appèl gemaak is, ingevolge waarvan Malema verbied word om sulke liedere te sing en verplig word om sy ondersteuners aan te moedig om dit ook nie te doen nie.

Roets meen die sing van die lied in Oktober in Senekal dui juis die konteks van haatspraak aan omdat Malema dit buite die hof gesing het waar die vermeende moordenaars van die plaasbestuurder Brendin Horner verskyn het. “Die bedoeling van die EFF wanneer hulle die lied sing, is om hatig te wees. Plaasmoorde is ’n ernstige en voortdurende werklikheid. Die EFF se uitlokkende aanhitsing van plaasmoorde buite die hof waar beskuldigdes van ’n plaasmoord vervolg word, is skokkend en onaanvaarbaar,” sê Roets.

Die klag fokus ook op die gewelddadige aard van die EFF en die onlangse uitlatings deur die EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi waar hy sy volgelinge aangehits het om boere se plase en eiendom te verband.

Roets sê AfriForum het met Malema en die EFF in gesprek probeer tree om te verduidelik wat die organisasie as haatspraak sien. “Ons het egter geen reaksie gekry nie.”

Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger van Hurter Spies Ing., sê AfriForum se doel met die klag is om Malema, sy ondersteuners en die EFF te verbied om ooit weer “Kill the Boer, kill the farmer” te sing. “Indien hy sou aanhou om dit te doen, kom dit wat ons betref op haatspraak neer en kan hy aan minagting van die hof skuldig bevind word. Ons wil sien dat Malema en die EFF tot verantwoording geroep word ten einde by ’n vooruitstrewende Suid-Afrika vry van haatspraak uit te kom.”

Op ’n vraag aan Roets oor die moontlike persepsie wat daar bestaan dat AfriForum Malema en die EFF teiken, het hy gesê die EFF val minderhede en AfriForum se lede aan en die organisasie tree uit selfverdediging op. “Ons sê die EFF kan voortgaan om radikaal te wees sonder om geweld aan te hits.”

Roets is ook gevra wat sy kommentaar is op die onlangse uitspraak van die Grondwethof in die aansoek wat Malema en die EFF gebring het om belangrike dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956) en die Wet op Betreding (6 van 1959) ongeldig te laat verklaar.

Dit het gespruit uit verskeie klagtes van aanhitsing wat reeds teen Malema gebring is en waarvan party nog hangend is. Malema het sy ondersteuners by verskeie geleenthede aangemoedig om grond onwettig te beset.

Die Grondwethof het beslis dat betreding steeds ’n misdaad is en dat daar ’n onderskeid tussen ernstige en minder ernstige oortredings is.

Roets meen die uitspraak is nie ’n oorwinning vir Malema soos hy aanvoer nie. “Dit is duidelik dat hy ’n oortreding begaan as hy vir die doelbewuste besetting van mense se grond vra. Hy tree onverantwoordelik op.”

Roets sê indien daar nie vinnig vordering met die jongste klag gemaak word nie, sal adv. Gerrie Nel van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid betrek word om Malema te vervolg.

Soortgelyke plasings