|

AfriForum dien klag teen Malema by Menseregtekommissie in

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n klag teen Julius Malema, omstrede leier van die EFF, by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Dít volg nadat Malema vandeesweek rassistiese uitlatings oor wit mense gemaak het nadat hy Maandag in die landdroshof in Newcastle, KwaZulu-Natal, verskyn het op klagtes van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste, na hy op 26 Junie vanjaar mense in Mdadeni aangehits het om grond te beset.

Hy word ook deur die burgerregte-organisasie AfriForum van presies dieselfde oortreding aangekla vir ’n voorval waar hy sy ondersteuners in Desember 2014 by ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset.

Malema het Maandag onder andere gesê die EFF gaan “wit mense se vrede versteur”.

“Witmense is mos van die hemel. As jy aan ʼn wit mens raak, sal jy tronk toe gaan. Swartmense is onderworpe aan wit mense en dien hulle net,” het hy op sy beurt in die hof gesê.

Hy het verder gesê dat hy bereid is om tronk toe te gaan vir grond. Hy meen die land is tans in die hande van koloniale meesters.
Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit uiters kommerwekkend dat iemand in Malema se posisie openlik voortgaan om geweld tussen rasse aan te hits.

“Sy uitlatings kom op ’n interessante tyd, aangesien hy binnekort weer in die hof – dié keer in Bloemfontein – moet verskyn op aanklag van aanhitsing tot geweld wat AfriForum teen hom ingedien het in 2014.”

Soortgelyke plasings