AfriForum dien klag teen Netbal SA-president in

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om ’n klag in te dien teen Cecilia Molokwane, die president van Netbal Suid-Afrika (NSA). In dié klag word NSA versoek om die president van die organisasie te ondersoek nadat AfriForum klagtes ontvang het dat Molokwane haar na bewering wangedra en rassistiese uitlatings gemaak het tydens die Spar-vrouekampioenskap in Augustus vanjaar.

Van dié uitlatings het onder meer die volgende ingesluit:

  • Die wit spelers in die een span is net weens die kwotastelsel ingesluit en behoort nie op die baan te wees nie.
  • Aanhitsing om sekere spelers op die baan te beseer.
  • Negatiewe kommentaar wat die waardigheid van spelers aantas.
  • Afbrekende opmerkings wat op ras gebaseer is.

AfriForum ondersteun ook tans vir Marguerite Rootman, die voormalige afrigter van die Baobabs, nadat sy as hoofafrigter deur ’n ongekwalifiseerde swart afrigter vervang is. Die afrigter wat Rootman vervang het, is slegs ’n vlak 1-afrigter; om egter as afrigter vir die Telkom-liga te kwalifiseer, moet ’n afrigter ten minste ’n vlak 2-afrigter wees. Dié opdrag het ook van Molokwane gekom.

“Molokwane se optrede en uitlatings is totaal en al onaanvaarbaar. ’n Mens sou verwag dat iemand in haar posisie eerder sou probeer om netbal in Suid-Afrika te bevorder, maar op dié stadium wil dit voorkom asof sy slegs daar is om sekere spelers te bevoordeel,” sê Henk Maree, AfriForum se woordvoerder vir sport.

Dit is maar een van vele voorvalle wat AfriForum tans ondersoek as deel van dié organisasie se breër veldtog vir regverdigheid en gelykheid in Suid-Afrikaanse netbal. AfriForum is ook van voorneme om die Internasionale Netbalfederasie by dié veldtog te betrek.

Soortgelyke plasings