|

AfriForum dien klagtes in by Menseregtekommissie teen Tokologo-munisipaliteit

AfriForum het op 7 Julie 2022 klagtes by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit oor riool wat sedert Augustus 2021 in ’n plaas wat grens aan die rioolwerke.

Dié burgerregteorganisasie het in Mei 2022 die plaas besoek en strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder aanhangig gemaak oor die besoedeling wat plaasvind. AfriForum het ook reeds verskeie briewe aan die Tokologo-munisipaliteit gerig oor die toestand van die dorp en kommer uitgespreek oor die vloei van riool. Tot hede het die munisipaliteit geen terugvoer gelewer nie.

Die damwal van die rioolwerke het gebreek en veroorsaak dat die rioolwater in die buurplaas invloei. Dit het veroorsaak dat die krale, inry en tuin van die plaas onder rioolwater is. Die aaneenlopende vloei van water het veroorsaak dat dit amper onmoontlik is om op die plaas te ry sonder ’n 4×4-voertuig. Die boer was gedwing om sy skape en beeste te verkoop omdat die krale ook onder rioolwater is.

Die situasie het geensins verbeter nie en daar word verwag dat die boer en sy gesin in hierdie omstandighede moet leef.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie ingryp en die probleem regstel nie. Dis onmenslik om te verwag dat die boer en sy gesin só moet leef, daarom het AfriForum besluit om klagtes by die MRK te gaan lê. Geen persoon moet in sulke omstandighede leef nie. AfriForum sal aanhou om druk toe te pas op die Tokologo-munisipaliteit om te verseker dat die probleem aandag kry en opgelos word. Die munisipalitiet moet aanspreeklik gehou word vir die skade wat hier aangerig is,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die AfriForum-tak in Hertzogville het al in die verlede hul kommer uitgespreek oor die swak dienslewering van die munisipaliteit. Die tak sal voortgaan om te verseker dat die Tokologo-munisipaliteit hul pligte nakom en die dienste aan die gemeenskap lewer waarvoor hulle betaal word.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te verbeter: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings