|

AfriForum dien klagtes in weens R1,57 miljard se wanbesteding deur Vrystaatse departemente

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat op Maandag, 18 April afgeskop het – strafregtelike klagtes ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999, ingedien teen Nthimotse Mokhes, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, en Ramathe Stanley Malope, hoof van die Vrystaatse departement van onderwys.

Dít volg nadat die burgerregte-organisasie toepaslike wetgewing, die departementele jaarverslae en verslae van die Ouditeur-Generaal (OG) bestudeer het en regsmenings ingewin het om die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld as ’n nasionale krisis te geïdentifiseer.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van menslike nedersettings toon dat die departement onreëlmatige uitgawes van R982 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het. Die departement van onderwys het in dieselfde jaar R589 miljoen aan ongemagtigde uitgawes bestee.

Dié buitensporige uitgawes van die Vrystaatse departemente kon voorkom word indien die departementshoofde hul verpligtinge nagekom het,” het Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, gesê.

“Die klagtes teen die departementshoofde is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge bogenoemde Wet. Hulle is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou.”

Taute meen dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag moet begin plaas om ʼn voorbeeld van departementshoofde te maak wat nie hul pligte ingevolge die wet nakom nie, omdat hul van die grootste bydraers tot die vermorsing van belastinggeld is.

Mnr. Koos du Toit, ʼn inwoner van Bloemfontein, het aan Forum Nuus gesê dat hy glad nie verbaas is dat die departementshoof van onderwys in die Vrystaat vir wanbesteding aangekla word nie. “Ek sien gereeld jong kinders in skooluniforms op straat rondloop in skoolure. Vir my wys dit dat daar geen dissipline of politieke wil by hierdie departement is om onderwys in die provinsie te verbeter nie.”

Hy is van die mening dat onbevoegdheid en swak leierskap die hoofredes is vir die departement se wanbesteding. “Dit gaan nie oor ras nie, maar oor bevoegdheid. Hierdie tipe probleme ontstaan wanneer mense nie volgens meriete aangestel word nie.”

Die burgerregte-organisasie het verlede week klagtes teen departementshoofde in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes ingedien. AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

 

 

Soortgelyke plasings