|

AfriForum dien klagtes oor verkwiste R256 miljoen teen Oos-Kaapse departement van gesondheid in

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes in Port Elizabeth ingedien teen dr. T.D. Mbengashe, hoof van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, as deel van dié organisasie se nasionale veldtog teen die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dít volg nadat AfriForum die departement se jaarverslag bestudeer het en bevind het dat Mbengashe skuldig is aan oortredings ingevolge Artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (wet 1 van 1999).

AfriForum sal al nege provinsies tussen 18 en 22 November 2019 besoek, waartydens strafregtelike klagtes teen die hoofde van elke provinsiale departement van gesondheid ingedien sal word.

“Die verkwisting van belastingbetalergeld is ’n nasionale krisis en die verantwoordelike partye moet aanspreeklik gehou word. Dit is waarom ons vandag hierdie klagtes gelê het. Die wanbesteding van fondse is een van die hoofredes waarom ons nie met die inwerkingstelling van NGV op die regering kan staatmaak nie: Hulle het bewys dat hulle nie met belastingbetalergeld vertrou kan word nie,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die departement van gesondheid in die Oos-Kaap se jaarverslag dui aan dat dié departement in die 2017/2018-finansiële jaar meer as R255 miljoen onreëlmatige bestee het. Die departement het ook byna R1 miljoen in die 2017/2018-finansiële jaar op vrugtelose en verkwistende wyse bestee.

Onreëlmatige besteding behels alle uitgawes wat teenstrydig met die Wet se voorskrifte is. Vrugtelose en verkwistende besteding is uitgawes wat tevergeefs aangegaan is en voorkom kon word indien redelike voorsorg getref was. Hierdie buitensporige besteding kon voorkom word as Mbengashe sy pligte nagekom het.

“Die klagtes teen die departementshoofde word gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Die departementshoofde laat belastingbetalers in die steek deur in die uitvoer van hul pligte te misluk,” sluit Greyling af.

AfriForum moedig die publiek aan om NGV teen te staan deur hul mandaat vir AfriForum te gee en kommentaar teen NGV op AfriForum se webtuiste by www.jougesondheid.co.za in te dien.

Soortgelyke plasings