|

AfriForum dien klagtes oor verkwiste R344 miljoen teen Mpumalanga Departement van Gesondheid in

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes ingedien teen dr Savera Mohangi, hoof van Mpumalanga se departement van gesondheid as deel van dié organisasie se nasionale veldtog teen die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV). Dít volg nadat AfriForum die departement se jaarverslag bestudeer het en bevind het dat Mohangi skuldig is aan oortredings ingevolge Artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (wet 1 van 1999).

AfriForum het al nege provinsies tussen 18 en 22 November 2019 besoek, waartydens strafregtelike klagtes teen die hoofde van elke provinsiale departement van gesondheid ingedien is.

“Die verkwisting van belastingbetalergeld is ’n nasionale krisis en die verantwoordelike partye moet aanspreeklik gehou word. Dit is waarom ons vandag hierdie klagtes gelê het. Die wanbesteding van fondse is een van die hoofredes waarom ons nie met die inwerkingstelling van NGV op die regering kan staatmaak nie: Hulle het bewys dat hulle nie met belastingbetalergeld vertrou kan word nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die departement van gesondheid in Mpumalanga se jaarverslag dui aan dat dié departement in die 2017/2018-finansiële jaar byna R310 miljoen onreëlmatige bestee het. Die departement het ook R317 000 in die 2017/2018-finansiële jaar op vrugtelose en verkwistende wyse bestee. Die departement het ook byna R34 miljoen in die 2017/2018-finansiële jaar op ongemagtigde wyse bestee.

Onreëlmatige besteding behels alle uitgawes wat teenstrydig met die Wet se voorskrifte is. Vrugtelose en verkwistende besteding is uitgawes wat tevergeefs aangegaan is en voorkom kon word indien redelike voorsorg getref was. Ongemagtigde besteding is alle uitgawes wat aangegaan word en teenstrydig met die goedgekeurde begroting is. Hierdie buitensporige besteding kon voorkom word as Mohangi haar pligte nagekom het.

“Die klagtes teen die departementshoofde word gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet. Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Die departementshoofde laat belastingbetalers in die steek deur in die uitvoer van hul pligte te misluk,” sluit Bekker af.

AfriForum moedig die publiek aan om NGV teen te staan deur hul mandaat vir AfriForum te gee en kommentaar teen NGV op AfriForum se webtuiste by www.jougesondheid.co.za in te dien.

Soortgelyke plasings