|

AfriForum dien kommentaar in oor voorgestelde wetsontwerp rakende die ontwikkeling van stroomop-petroleumhulpbronne

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 21 Februarie 2020 kommentaar by die departement van minerale hulpbronne ingedien oor die konsepwetsontwerp op die ontwikkeling van stroomop-petroleumbronne wat die minister van minerale hulpbronne en energie  in ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer het.

AfriForum verwelkom die publikasie van voorgestelde wetgewing wat uitsluitlik ten doel het om die ontginning en produksie van olie en gas in Suid-Afrika te reguleer. Die voorgestelde wetsontwerp is ’n belangrike tree in die regte rigting vir die ontwikkeling van ’n volhoubare stroomop-petroleumindustrie in Suid-Afrika – iets wat dringend nodig is om die ekonomie tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te stimuleer.

“Daar bestaan wel kommer dat die voorgestelde wetsontwerp potensiële beleggers gaan afskrik, aangesien dit aandui dat 10% van elke maatskappy wat aansoek doen om mynregte, deur ’n SEB-aandeelhouer besit moet word. Die konsepwetgewing bepaal ook dat die staat ’n verdere 10% van die maatsappy se direksie moet beklee en ook stemregte het,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

AfriForum is voorts lugtig oor die inwerkingstelling van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika as nóg ’n staatsbeheerde instelling, wat onder meer daarvoor verantwoordelik sal wees om aansoeke om ontginning en produksie te ontvang en te assesseer. Hoewel dit op sigself nie kommerwekkend hoef te wees nie, kan die korrupsie wat die laaste paar jaar by Suid-Afrikaanse staatsbeheerde instellings kop uitgesteek het, beleggers heel moontlik afskrik. Daar is ook nie genoegsame bepalings in die voorgestelde wetsontwerp om te verseker dat PetroSA nie ook in die korrupsie-strik trap waaronder ander staatsbeheerde instellings in die onlangse verlede gebuk gegaan het nie.

“AfriForum het ook in sy kommentaar uitgewys dat hierdie konsepwetgewing in sy finale vorm moet verseker dat deursigtigheid en aanspreeklikheid die middelpunt van die wetlike raamwerk vorm,” eindig De Klerk.

Soortgelyke plasings