AfriForum dien kommentaar in teen voorgestelde sportwetgewing

AfriForum het vandag kommentaar ingedien teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Sport en Ontspanning, 1998 (Wet 110 van 1998), wat in Desember 2019 gepubliseer is. AfriForum voer aan dat dié voorgestelde wysigings geensins geïmplementeer moet word nie, aangesien dit sport in Suid-Afrika geweldig sal benadeel.

AfriForum het in ’n breedvoerige dokument die algehele impak van die voorgestelde wetgewing volledig uiteengesit. In kort word daar op twee samevattende punte gefokus.

Eerstens verbied elke internasionale sportliggaam politieke of regeringsinmenging in sport. “Hoewel ons vir jare al van politieke inmenging in sport bewus is en dit selfs onder internasionale sportliggame se aandag gebring het, sal die skriftelike, direkte kaping van sport tot ernstige implikasies vir Suid-Afrikaanse sport op internasionale vlak lei,” sê Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

Tweedens is dit histories bewys dat politieke en regeringsinmenging in sport nog nooit tot die voordeel van sport in enige land was nie. Suid-Afrika is ’n uitstekende voorbeeld hiervan.

Verder verwys AfriForum se kommentaar ook na die teenstrydige optrede van internasionale liggame wanneer daar gekyk word na die toepassing en optrede teen lande wat ’n direkte rasseverteenwoordigende beleid najaag.

“AfriForum is steeds van voorneme om later vanjaar internasionale sportliggame te nader om politieke inmenging in sport en  die aggressiewe inwerkingstelling van die kwotastelsel in Suid-Afrikaanse sport aan te pak,” sluit Maree af.

Teken die petisie teen die nasionalisering van sport hier: https://afriforum.co.za/nasionalisering-van-sport/.

Sien die kommentaar hier.

Soortgelyke plasings