AfriForum dien kommentaar in op wysiging van Noordwes Parkeraad-wetsontwerp


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 21 Mei kommentaar by die Noordwes-regering ingedien rakende die finalisering van die Noordwes Parkeraad-wetsontwerp.
Dít volg nadat die Noordwes provinsiale wetgewer openbare kommentaar vir die wysiging van hierdie wetsontwerp oopgestel het. Daar heers groot kommer oor die algemene bestuur en die finansiële bestuur van die parkeraad.
AfriForum het die openbaredeelnameproses op 11 Mei 2018 in Ikageng bygewoon en as belanghebbende geregistreer.

“AfriForum is van mening dat hierdie veranderings deur ’n eenvoudiger proses, by wyse van regswysigings, aangebring kon word; sonder om die 2015-wet te herroep en dit met ’n nuwe wet te vervang. Verder is die proses ook grootliks in Tswana aangebied – dit kon veroorsaak dat die proses nie noodwendig toeganklik was vir lede van die publiek wat nie Tswana-magtig is nie,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van omgewingsake.

AfriForum se kommentaar sluit die volgende in:

  • AfriForum neem kennis dat die Noordwes-parkeraad nie ontbind word nie en sy regstatus behou, soos in die 2015-wet vervat.
  • AfriForum neem kennis dat sekere magte van die uitvoerende hoof na die uitvoerende raad verskuif is, ingevolge die direkteur-generaal se versoek om aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet no. 1 van 1999) te voldoen.
  • Dit is kommerwekkend dat die griewe van die ouditeur-generaal, wat daartoe gelei het dat die 2015-wet verander word, nie volledig aan die publiek bekend gestel is nie.
  • AfriForum neem kennis dat daar regsekerheid geskep is tussen die “parkeraad” en die “uitvoerende raad”.
  • AfriForum verwelkom die feit dat die wet sekere vaardighede van uitvoerende raadslede vereis, maar is bekommerd dat die geleentheid vir kaderontplooiing bestaan.

AfriForum sal die kandidaatstellings vir uitvoerende raadslede, soos deur die LUR benoem, se vaardighede en kwalifikasies fyn bestudeer om kaderontplooiing hok te slaan. AfriForum wil te alle tye verseker dat die omgewing in die Noordwes reg bestuur en beskerm word.
SMS jou naam na 45354 (R1) om hierdie AfriForum-aksie te ondersteun.
 

Soortgelyke plasings