AfriForum dien PAIA-aansoek in oor oprigting van Zuma-monument in Noordwes


AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (PAIA, wetno. 2 van 2000) ingedien by die kantoor van Supra Mahumapelo, Noordwes-premier, oor die oprigting van ’n monument van pres. Jacob Zuma in Groot Marico.
Dié aansoek volg op die vorige aansoek in Maart vanjaar oor die oprigting van ’n Zuma-standbeeld. Beplanning om met die oprigting van die standbeeld voort te gaan, is na talle teenkanting – onder meer deur AfriForum, wat bereid was om die hof te nader – gestaak.
In die nuutste PAIA-aansoek versoek die burgerregte-organisasie notules van vergaderings van die provinsiale wetgewer, kennisgewings in die media en alle toepaslike dokumentasie oor die begroting vir en die koste van dié projek.
Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen dat die oprigting van ’n Zuma-monument totaal onvanpas is gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede wat onder sy presidentskap in Suid-Afrika heers.

“Zuma word verder met talle skandale verbind en daar is reeds ’n reeks strafregtelike klagtes teen hom. ’n Monument wat iemand eer moet meriete en waarde hê. AfriForum is bereid om met ander organisasies saam te werk om die oprigting van ’n Zuma-monument te verhoed.”

Soortgelyke plasings