|

AfriForum dien skrywes by SAPD in oor grondgrype

Die burgerregtewaghond AfriForum het tussen 6 en 8 November 2019 skrywes by 10 polisiestasies in Limpopo ingehandig om die SAPD weer bewus te maak oor die wyse waarop grondgrype hanteer moet word. Dié skrywes is ingedien saam met ’n direktief wat die nasionale kommissaris vroeër vanjaar aan alle polisiestasies gestuur het.

Dié aksie vorm deel van ’n projek wat AfriForum van stapel gestuur het om soveel polisiestasies as moontlik in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga te besoek om gidse te oorhandig wat die prosedure vir polisiehantering van grondgrype duidelik uiteensit.

Skrywes is by die volgende polisiestasies ingedien: Bulgrivier, Cumberland, Dwaalboom, Ellisras, Hoopdal, Matlabas, Modjadjiskloof, Nylstroom, Phalaborwa, en Warmbad.

Grondgrype in die noordstreek het sedert die begin van 2019 beduidend toegeneem, met ongeveer 45 gevalle in Gauteng, vyf in Limpopo en nege in Mpumalanga.

“Dit blyk dat die SAPD gereeld versuim om hul grondwetlike plig en verantwoordelikhede na te kom – veral wat grondgrype betref. Dit het tot gevolg dat eienaars van eiendom waarop grondgrype plaasvind hul hand diep in die sak moet steek om die hof te nader om dié grondgrype te keer,” sê David Rule, AfriForum se assistentkoördineerder vir Limpopo

Ondanks ’n direktief en nasionale instruksie oor die hantering van grondgrype wat die SAPD aan alle polisiestasies uitgereik het, gehoorsaam sommige polisiestasies steeds nie dié direktief en instruksie nie. AfriForum moet gereeld intree en druk tot op nasionale vlak toepas om die SAPD tot optrede te dwing.

“AfriForum sal voortgaan om as burgerregtewaghond op te tree en druk op die owerhede toe te pas om te verseker dat hulle hul grondwetlike pligte nakom. Ons sal streng teen polisiestasies optree wat nie hul pligte nakom nie,” sluit Rule af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings