|

AfriForum dien strafregtelike klagte in om mynaansoek by wildtuin te stuit

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 14 Augustus 2019 sy veldtog teen die beoogde steenkoolmyn naby die Nasionale Krugerwildtuin verskerp ná nog beweerde vergrype deur Singo Consulting (Edms.) Bpk.

AfriForum het vandag ’n strafregtelike klagte by die Komatipoort-polisiestasie ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat Singo Consulting na bewering bedrog in die vorm van plagiaat in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het. Dít volg nadat dit onder AfriForum se aandag gebring is dat die maatskappy se verslag woord vir woord met omgewingsimpakstudies van ander omgewingskonsultante ooreenstem.

AfriForum het die omgewingsimpakstudie eers ontvang nadat die organisasie se regspan ’n skrywe aan Singo Consulting en Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. gestuur het – dit ondanks die feit dat AfriForum as ’n belanghebbende geregistreer is. Die burgerregteorganisasie het ook vandag kommentaar op die omgewingsimpakstudie – wat onvolledig is – ingedien.

AfriForum se regspan gaan ook klagtes by die betrokke rade indien waar Singo Consulting geregistreer en waarby dit geakkrediteer is, aangesien dié maatskappy oneties optree en strafregtelike oortredings gepleeg het.

Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê dit het onder die organisasie se aandag gekom dat dié maatskappye na bewering bedrog gepleeg het. “Ek glo ’n indringende ondersoek sal nog meer ongerymdhede aan die lig bring. Ons is tot op hede nie werklik ingelig oor die gebeure nie en die prosesse wat gevolg word, is gebrekkig. AfriForum het om uitstel gevra om hul kommentaar in te dien, maar dié versoek het op dowe ore geval.”

Volgens De Klerk het die organisasie ook ondersoek ingestel om te sien waar die twee partye se geregistreerde kantore geleë is. Die een geregistreerde adres wat in die verslag aangedui word, is egter ’n oop stuk veld. “Die vraag wat gevra moet word – ongeag die ongerymdhede wat daar reeds is – is hoe só ’n mynmaatskappy om ’n mynlisensie kan aansoek doen as jy nie eens hul kantoor kan besoek nie.”

Manzolwandle Investments wil die steenkoolmyn oor ’n gebied van 18 000 hektaar digby die Krugerwildtuin begin. Dit hou enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite in. Mpumalanga as toeristebestemming kan ook ekonomies in duie stort as daar met onwettige mynbedrywighede voortgegaan word, meen De Klerk.

De Klerk het ook in ’n vorige verklaring gewys op ’n onlangse uitspraak van die appèlhof teen die departemente van omgewingsake en minerale hulpbronne se goedkeuring dat Atha-Africa Ventures (Edms.) Bpk. met ’n steenkoolmyn in die Mabola-gebied in Mpumalanga voortgaan. Die departemente het dié aansoek stil-stil goedgekeur, terwyl die gebied ’n geproklameerde bewaringsgebied is. Die hof het bevind dat die ministers nie deursigtig was nie en die besluit oorhaastig geneem het.

“Dit blyk dat daar al meer sulke vergrype in die land voorkom en AfriForum sal nie toekyk hoe onwettige mynboubedrywighede die land verwoes nie,” sê De Klerk.

Jy kan ons help deur ons veldtog #BewaarOnsNatuur te ondersteun. Teken die petisie by https://afriforum.co.za/weg-met-myn-by-krugerwildtuin/.

Soortgelyke plasings