|

AfriForum dien strafregtelike klagtes in teen munisipale bestuurder van Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit


AfriForum het op 19 Mei strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit ingedien oor rou riool wat al jare lank oorspoel in vleilande, die Valsrivier, velde, besigheidsgebiede en selfs in erwe uitborrel. Die strafregtelike klagte volg nadat AfriForum die Moqhaka-munisipaliteit op terme geplaas het oor die rioolprobleme in Kroonstad en geen terugvoer ontvang het nie.


AfriForum het verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang oor die rioolstelsels en -infrastruktuur op Kroonstad wat nie behoorlik onderhou word nie en dus nie funksioneer soos dit moet nie. Dit lei dan na die uitvloei van rou riool.


AfriForum het ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor rou riool wat vanaf die rioolplaas na omliggende gebiede vloei en tot gevolg het dat die grond besoedel word, asook die ondergrondse waterbronne. Dit veroorsaak dat mense se lewensgehalte en gesondheid negatief beïnvloed word en dus het AfriForum dringend verdere stappe geneem en die munisipale bestuurder strafregtelik aangekla, aangesien hy versuim om sy pligte na te kom.


“Dit is verstommend dat die munisipaliteit steeds nie opgetree het en behoorlik aandag aan hierdie probleem geskenk het nie. Daar kan nie met mense se gesondheid gedobbel word nie. Die omstandighede waarin die gemeenskap van Kroonstad leef, is onmenslik. Nie net hou dit ’n baie groot gesondheidrisiko vir die gemeenskap, diere en omgewing in nie, maar dit het ook ’n geweldige negatiewe impak op die waarde van die plaaslike ekonomie en eiendomme. AfriForum sal aanhou om vir die gemeenskap se regte te veg om te verseker dat hierdie probleem aandag geniet en dat daar ’n toekoms vir ons nageslag gebou sal word,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.


Jy kan help om druk op die munisipaliteit te plaas deur jou naam by die petisie te voeg.


Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om probleme in jou omgewing op te los: SMS “Kroonstad” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings