|

AfriForum dien strafregtelike klagtes teen burgemeester van Mogalakwena-munisipaliteit in

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen sowel Andrina Matsemela, burgemeester van die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit, as Charles Malema, hoof- finansiële beampte van dié munisipaliteit, by die Mokopane-polisiestasie in Potgietersrus ingedien. Dít volg nadat Matsemela na bewering ongeveer R1,5 miljoen se munisipale fondse op haar verjaarsdagpartytjie bestee het.

Die burgerregte-organisasie eis dat die polisie hierdie bewerings ondersoek om vas te stel of Matsemela en Malema hulle onder meer aan korrupsie skuldig gemaak het.

Die ouditeur-generaal se jaarlikse munisipale ouditverslag vir 2017/2018 het getoon dat munisipaliteite se ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes tot R122 miljard toegeneem het.

“Dié verslag dui verder aan dat die Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit die tweede grootste oortreder ten opsigte van oorbesteding is. Dié munisipaliteit het ’n verbysterende R1,12 miljard meer as hul begroting bestee. Munisipale beamptes kan nie langer toegelaat word om belastingbetalers se geld só te vermors nie. Daarom beskou AfriForum hierdie aantygings teen Matsemela in ’n baie ernstige lig en verwag van die polisie om die saak noukeurig te ondersoek. Ons sal ook die saak moniteer en gereeld verneem na die vordering van die polisie-ondersoek,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

 

“Dienslewering in die Mogalakwena-distrik is uiters swak en daar was al in die verlede verskeie bewerings van korrupsie en onbekwaamheid teen die burgemeester. AfriForum staan saam met gemeenskappe om hierdie tipe wanbesteding uit die weg te ruim. Indien Matsemela munisipale fondse gebruik het om haar verjaarsdagpartytjie te befonds, bewys dit dat sy geen agting vir die inwoners in die Mogalakwena-distrik het nie, aangesien R1,5 miljoen baie beter aangewend kon word om dienste te lewer,” sê David Rule, AfriForum se koördineerder vir Limpopo.

Soortgelyke plasings