|

AfriForum dien strafregtelike klagtes teen maatskappy met beweerde EFF-bande in oor Tshwane-brandstoftender

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van tenderbedrog en korrupsie by die Lyttelton-polisiestasie ingedien teen Hendrick Kganyago, direkteur van Balimi Barui Trading (BBT), en Stanley Kganyago, ’n familielid van Hendrick Kganyago en ook ’n lid van die bodspesifikasiekomitee wat gestig is vir die toekenning van ’n brandstoftender deur die Tshwane Metroraad. Dit volg nadat die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria bevind het die tender (wat aan BBT toegeken is) op ’n irrasionele wyse toegeken is.

Die Tshwane Metroraad het op 19 Junie 2018 die tenderaanbod gepubliseer vir ses soorte brandstof wat die Metro benodig. Die Metro gebruik egter sedert 2015 net twee van hierdie ses brandstofsoorte. BBT het op 5 Julie 2018 die tenderinligtingsessie bygewoon en die volgende dag R250 000 in Mahuna Investments se rekening inbetaal. Mahuna Investments – waarvan EFF-leier Julius Malema se neef, Matsobane John Phaleng, die enigste direkteur is – is ook een van die maatskappye wat onwettige VBS-geld ontvang het. Daar is bewerings dat van hierdie geld glo gebruik is om Malema se persoonlike lewenstyl te finansier en sy seun se skoolfonds te betaal.

Hendrick Kanyago het op 27 Julie 2018 ’n verdere R500 000 aan Mahuna Investments betaal en R1 miljoen aan DMM Media and Entertainment. DMM Media and Entertainment se enigste direkteur is Wesley Dlamini, wat saam met Brian en Lucky Shivambu (broers van Floyd Shivambu, die adjunkpresident van die EFF) verskeie ander maatskappye besit.

Die bodspesifikasiekomitee het in Januarie 2019 die tenderaanbod aan BBT toegeken ten spyte van die feit dat BBT se pryse vir die twee brandstofsoorte – die enigste soorte wat deur die Metro gebruik word – buitensporig hoog was. BBT het dít verreken deur die pryse van die ander vier brandstofsoorte (wat glad nie gebruik word nie) baie laag aan te bied in sy tenderbod. Dit blyk dus dat BBT waarskynlik toegang gehad het tot inligting waarvan die ander tenderaanbieders nie geweet het nie. Transkripsies van die bodkomitee se vergaderings wys dat Stanley Kganyago uiters betrokke was in besprekings oor die spesifikasie van die brandstofsoorte in die tenderbod, asook dat hy direk betrokke was by die administrasie van die BBT-kontrak.

“AfriForum sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat belastingbetalers nie slagoffers word van verdagte transaksies wat deur die politieke elite georkestreer word nie. Ons dien vandag klagtes in omdat korrupsie en tenderbedrog ’n kanker is wat besig is om sonder beheer deur die land te versprei – tot nadeel van almal,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid.

Soortgelyke plasings