AfriForum dien voorstelle vir GOP by eDumbe Plaaslike Munisipaliteit in


Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het verskeie voorstelle namens hul lede aan die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit gemaak vir die komende Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) wat jaarliks deur die raad hersien moet word. Dié stap was nodig om te verseker dat inwoners van Paulpietersburg se behoeftes ook aangehoor word.

“Dit is belangrik vir gemeenskappe om kennis oor wetgewings te dra en te verstaan wat van die munisipaliteite verwag word – soos om van Oktobermaand af hul insette by die GOP-padskoue te lewer,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het onder meer die ontwikkeling van verskeie bywette voorgestel, spesifiek vir rondloperdiere en onwettige storting. Daar is ook versoeke vir nuwe straatligte en pale vir die hoofstrate, die herbou van verskeie paaie (wat die roete na die silo’s insluit), beter vullisdromme, beeskampe, asook ’n sementpaadjie langs die teerpad tussen die industriële gebied en die dorp.
AfriForum sal voortaan gereeld opvolgvergaderings met die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit hou rondom dié voorstelle se vordering.
Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap op te hef: SMS “Paulpiet” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings