|

AfriForum dien wéér klagtes teen Shaun Abrahams in nadat dossier verdwyn

AfriForum het vandag weer klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, afpersing en vervalsing teen Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, en ses ander toplede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien. Dit volg nadat die burgerregteorganisasie in Augustus 2018 hierdie klagtes ingedien het, maar die dossier intussen verdwyn het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het verskeie navrae oor die vordering van dié ondersoek aan die SAPD gerig – sonder enige beduidende terugvoer. Die SAPD het AfriForum uiteindelik ingelig dat die dossier vermis is en dat die organisasie weer die klagtes sal moet indien.

Die klagtes is aanvanklik aanhangig gemaak nadat AfriForum ’n anonieme brief ontvang het wat uitbrei oor aantygings van ernstige strafregtelike gedrag binne die NVG. Die aantygings in die brief verwys onder meer na ’n onderlangs befondsde bedrieglike eis vir reiskostes van vier lede van die NVG. Dié eise, ingedien vir goedkeuring om na Zeerust te reis, verdraai die feit dat dié persone inderwaarheid na Kaapstad gereis en R97 000 van hierdie onderlangse fondse bestee het. Die skrywer van die brief beweer ook dat ’n getuiebeskermingsvoertuig aan Abrahams toegewys is wat hy vir persoonlike doeleindes gebruik het.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, is AfriForum bekommerd oor die gebrek aan vordering in die ondersoekproses, asook dat die dossier skynbaar gerieflikheidshalwe verdwyn het. “Ons sal aanhou om druk toe te pas in hierdie saak om te verseker dat skuldige partye aan die pen ry. Die feit dat die dossier verdwyn het, dui moontlik daarop dat sommige partye vir een of ander rede teen vervolging beskerm word, en dit is iets wat AfriForum nie kan toelaat nie – almal behoort gelyk te wees voor die reg,” sê Taute.

Soortgelyke plasings