| |

AfriForum doen beroep op almal wat ernstig oor menseregte is om Onderwyswetsontwerp teen te staan

Die beskikbaarheid van hoë gehalte onderrig is ’n noodsaaklike element waarsonder die bewusmaking oor en handhawing van menseregte onmoontlik is. Op Menseregtedag 2022 doen AfriForum dus ’n beroep op alle mense wat ernstig oor onderwys en menseregte is, om die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette teen te staan.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die periodieke hersiening van onderwyswetgewing nodig en bevat die wetsontwerp positiewe bepalings. Die probleem is egter dat dit as dekmantel misbruik word om die ANC-regering se haatveldtog teen Afrikaanse skole deur te voer. Dit stel naamlik voor dat die mag om finale besluite te neem oor onder meer toelatingsvereistes en die taalbeleid van skole van ouerbeheerliggame weggeneem word en in die hande van regeringsamptenare gelaat word. “Sodoende word gemeenskappe dus van seggenskap oor hulle skole ontneem en die magshonger, onbeholpe staat gevoed.”

Volgens Bailey is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in die nood. Veral in Gauteng is daar onvoldoende skole om in die aanvraag vir plasings te voorsien. Volgens syfers van die departement van Basiese Onderrig en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is 9,09% van die land se openbare skole in Gauteng geleë, terwyl 17,53% van die land se leerder in die provinsie woon. Die getalle styg jaarliks en in plaas van sorg dat meer skole gebou word, word druk op Afrikaanse skole geplaas om te verengels. Die provinsie se gebrekkige aanlyn registrasiestelsel lei nie net tot frustrasie nie, maar manipuleer reeds die plasings. Dit is net weens die deurlopende betrokkenheid van skole en beheerliggame dat die plasings nie verder ontspoor nie en dus moet gemeenskappe die reg behou om oor toelatings te besluit. Die onderwysdepartement is eenvoudig nie bevoeg of welwillend genoeg om daarmee vertrou te word nie.

Afrikaanse kinders het verder ook die reg tot moedertaalonderrig. Hierdie taalreg word internasionaal as ’n basiese mensereg erken. Internasionale en plaaslike navorsing het reeds onteenseglik bewys dat moedertaalonderrig slegs volhoubaar is indien dit in enkelmedium instellings aangebied word. In ander instellings sal sterker tale (soos Engels in die geval van Suid-Afrika) oplaas alle ander tale as medium van onderrig verdring. Om die rede moet plaaslike gemeenskappe ook die reg behou om oor hulle skole se taalbeleid te besluit. Meer moedertaalopsies moet geskep word vir Suid-Afrikaanse leerders, maar dit kan nie geskied ten koste van die taalregte wat die Afrikaanse taalgemeenskap reeds het nie. Die mensereg van een gemeenskap kan nie bevorder word deur daardie reg van ’n ander gemeenskap te ontneem nie.

Afrikaanse ouers is ’n lojale skoolgemeenskap wat baie hulpbronne in openbare skole belê. Ten einde die regte te behou wat hulle tans deur middel van verkose beheerliggame geniet, is dit noodsaaklik dat daar sterk standpunt teen die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette ingeneem word. Die wetsontwerp is nog nie gereed vir openbare kommentaar nie, maar AfriForum sal die proses dophou en die publiek hieroor op hoogte hou.

’n Aanlyn-petisie is deur AfriForum geloods om by voorbaat steun teen die wetsontwerp te verkry. Dit is reeds deur sowat 4 500 mense onderteken en is by www.redafrikaans.co.za  beskikbaar.

Soortgelyke plasings