|

AfriForum doen beroep op buurtwagte om voortdurend opleiding te kry ná GPF-lid sterf

Die tragiese dood van Johnny Grobler (46), lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Nigel, vroeër vandeesweek het die noodsaaklikheid van goeie opleiding en waaksaamheid opnuut in die kollig geplaas.

Grobler is Saterdagaand dood nadat ’n rowerbendelid uit ’n boom op hom en sy kollegas geskiet het.

Grobler was baie geliefd in sy gemeenskap en het volgens inwoners die dorp pligsgetrou gedien.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het sy medelye teenoor die naasbestaandes van Grobler uitgespreek.

“Ons is in ’n unieke situasie in die land in die sin dat ons weens gebrekkige dienste in baie opsigte na onsself moet omsien.

“Wat met Grobler gebeur het, is tragies en kan met enige buurtwag- of GPF-lid gebeur. Dit is ongelukkig die risiko wat patrolleerders loop deur vrywillig te patrolleer en selfs partykeer te reageer op mense se noodoproepe.

“Daarom wil AfriForum mense wat in privaathoedanigheid patrollies ry aanmoedig om nooit met opleiding op te hou nie. Die burgerregte-organisasie het duisende patrolleerders die afgelope 4 jaar landwyd opgelei en duidelik gesien watter verskil dit op grondvlak maak.”

Cameron sê indien individue by patrollies betrokke is, moet hulle gehalte reaksie-opleiding, opleiding rondom die wetlike aspekte van wat gedoen en nie gedoen mag word nie, sowel as opleiding in noodhulp, selfverdediging en toneelbestuur kry.

“AfriForum het die buurtwagbeskermer-risikodekking laat onderskryf vir sy patrolleerders wat verskeie voordele inhou sou ʼn lid tydens ʼn patrollie beseer word. “Ons patrolleerders geniet die dekking selfs al is hulle nie besig met patrollies nie.”

Cameron sê mense wat nog nie by AfriForum-strukture betrokke is nie en meer daarvan wil weet, kan ’n e-pos stuur na veiligheid@afriforum.co.za.

Hy het gemeenskappe ook aangemoedig om by aktiwiteite soos buurtwagte en patrollies betrokke te raak.

Soortgelyke plasings