AfriForum doen beroep op gemeenskappe om veiligheidstrukture te versterk en georganiseerd te raak

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om voort te gaan om burgerlike veiligheidstrukture soos buurtwagte te bou en te verbeter.

Dit volg ná die vrystelling van die jongste misdaadstatistieke deur die minister van Polisie, Bheki Cele. Volgens die statistieke was daar ‘n toename in geweldsmisdaad, insluitend moord, aanranding en rooftogte tussen Oktober 2022 en Desember 2022.

Cele het self erken dat die statistieke nie ’n algehele positiewe prentjie van die misdaadsituasie in Suid-Afrika skets nie. Volgens AfriForum is dit nie verbasend nie, aangesien die polisie self erken het dat hulle nie hul mandaat kan nakom nie.

Cele het ook erken dat die polisie nie self misdaad kan bekamp nie en dat gemeenskappe meer betrokke moet raak by die bekamping van misdaad.

“Dit is ’n ironiese opmerking van die minister aangesien AfriForum al jare lank gemeenskappe versoek om presies dit te doen weens die polisie se mislukkings. Dit is baie duidelik dat die SAPD nie hul werk doeltreffend kan doen nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum het 160 buurt- en plaaswagstrukture landwyd en ons wil graag meer lede van die publiek versoek om die naaste een aan hulle te vind en betrokke te raak. Die veiligheid van jou gemeenskap is in jou eie hande,” sluit Broodryk af.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag deur www.afriforumbuurtwag.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings