|

AfriForum dring aan op behoorlike konsultasie oor NGV

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op die president en die minister van Gesondheid om groter erns te maak met die huidige konsultasieproses oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Dit behels dat konsultasiegeleenthede wat as deel van die minister se sogenaamde landwye toer (roadshow) aangebied word, beter gekommunikeer moet word, meer belanghebbendes betrek moet word en dat daar werklike verandering moet volg op die insette van die burgerlike samelewing en sakesektor.

Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het byna twee maande gelede aangekondig dat hy ’n nasionale toer gaan onderneem om inligting in te win oor Suid-Afrikaners se behoeftes rakende NGV. Sedertdien het slegs enkele geleenthede as deel van dié toer plaasgevind en het die minister eerder net herhaal hoe vasbeslote hý is om voort te gaan met die implementering van NGV. By navraag van AfriForum kon die minister se woordvoerder nie eens ’n skedule van die toer voorsien nie. President Cyril Ramaphosa het ook onlangs aangekondig dat hy met besigheidsorganisasies gaan ontmoet om hul besware teen NGV te bespreek. AfriForum beklemtoon die belangrikheid daarvan dat burgerlike organisasies ook geraadpleeg moet word en dat besware nie net geïgnoreer kan word nie.

Volgens Louis Boshoff, Gesondheidsbeampte van AfriForum, gebruik die regering dikwels gespreksgeleenthede soos dié om opponente te paai, van hul beleid te probeer oortuig en nie om werklik ag te gee op die insette wat gelewer word nie. “Hierdie konsultasies sal gemeet word aan hul resultate, nie aan die motiewe en die minister se mooi praatjies nie,” verduidelik Boshoff.

Kommer oor NGV strek selfs tot buite die grense van Suid-Afrika. Die kredietgraderingsagentskap Fitch het NGV die afgelope week gelys as een van die vernaamste bedreigings vir die stabiliteit van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die onlangse weiering van die meerderheid van sakeorganisasies om die presidensiële gesondheidsverdrag te onderteken, waarin NGV as kerndoelwit voorgehou word, bevestig hierdie bedreiging.

Boshoff hou vol dat AfriForum altyd bereid sal wees om namens hul 300 000 lede in gesprek te tree met die regering, maar dat blote gesprekvoering nie outomaties ’n suksesvolle uitkoms verseker nie – veral nie as die regering, na afloop van sulke gesprekke, net voortgaan asof daar geen teenkanting ingebring is nie.

“AfriForum se ledebasis sluit pasiënte en gesondheidswerkers in die privaat en openbare sektore in en uit alle oorde is die teenstand teen NGV baie duidelik – hierdie stemme móét eenvoudig gehoor word,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings