|

AFRIFORUM DRINGEND HOF TOE OM IVERMEKTIEN VIR MENSLIKE GEBRUIK GOED TE KEUR

Deur Alet Rademeyer

As die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) en Dr. Zweli Mkhise, minister van gesondheid, nie mediese dokters se aansoeke (ingevolge artikel 21 van die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels) goedkeur om ivermektien vir die behandeling van COVID-19-pasiënte te gebruik nie, sal AfriForum die hof op 2 Februarie op ’n dringende basis nader.

AfriForum en dr. George Coetzee van Silver Lakes en twee van sy pasiënte voer in hofstukke aan SAHPRA moet noodtoestemming gee dat ivermektien vir menslike gebruik onder dokterstoesig gebruik kan word.

Die debat rondom die moontlikheid dat ivermektiem dalk doeltreffend in die behandeling van COVID-pasiënte kan wees, woed reeds etlike weke plaaslik en oorsee.

Medici wat pro ivermektien en die gebruik daarvan vir menslike gebruik is, meen dit kan nog baie lank duur voordat ’n entstof in die land algemeen beskikbaar is en intussen sterf duisende mense.

In die lig van die pandemie het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat nie die gebruik van ivermektien teen COVID-19 steun nie, wel einde verlede maand aangekondig dat hy wel verwikkelinge rondom die middel dophou.

Ivermektien word reeds langer as ’n halfeeu wêreldwyd gebruik om rivierblindheid, luise en brandsiekte te behandel. ’n Weergawe van die middel vir menslike gebruik was voorheen in Suid-Afrika geregistreer, maar tans is die middel net geregistreer om wurms en parasiete by diere te bekamp.

Ondanks dié toedrag van sake blyk dit dat talle mense, waaronder medici, die diereproduk onwettig gebruik. Dit het tot gevolg dat die aanvraag na die diereproduk die hoogte ingeskiet het en dat tekorte reeds plek-plek ervaar word.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende hoofdireksielid van Saai en president van die Wêreldboereorganisasie (WFO), is ook ten gunste van die gebruik van ivermektien vir menslike gebruik. Hy meen boere is reeds jarelank vertroud met die middel asook die uitwerking daarvan.

De Jager meen in die lig van ’n gebrek aan entstof op die oomblik, rus daar ’n verpligting op die Suid-Afrikaanse regering om dokters toe te laat om die middel aan pasiënte voor te skryf. “In baie ander lande word dit reeds gedoen, waarom moet ons regering voete sleep terwyl tientalle mense daagliks sterf?”

Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing, sê “ons verkeer in buitengewone omstandighede. Mense sterf daagliks en gesondheidspraktisyns swoeg. Elke dag kos lewens. Onder sulke toestande moet die potensiële risiko’s en voordele van ’n besluit met dringendheid opgeweeg word en daar moet met beslistheid opgetree word. Ivermektien is op die WGO se lys van noodsaaklike medisyne en dit is bewys dat dit veilig is – ook vir kinders.

“Studies wat in onder meer die VSA, Argentinië, Indië, Egipte en Spanje gedoen is, toon almal dat ivermektien potensiaal toon om COVID-19 te behandel en sterftes te verminder. Die balans tussen risiko en voordeel is duidelik; daarom doen ons nou dié stappe om die beskikbaarheid daarvan te verseker.”

Soortgelyke plasings