AfriForum dwing getuies in Thandi Modise-saak om mondelinge verklarings af te lê


AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Bejani Chauke en kapt. Tebogo Mokolobate kragtens artikel 205 van die Strafproseswet gedagvaar om vandag in die Potchefstroomse landdroshof te verskyn om die vervolgingspan van wesenlike en toepaslike inligting in die saak teen Thandi Modise te voorsien. Chauke en Mokolobate is getuies in AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se privaat vervolgingsaak teen Modise.

Chauke was nie by die hofverrigtinge teenwoordig nie. Sy regsverteenwoordiger het verduidelik dat Chauke weens mediese redes nie vandag in die hof kan getuig nie. AfriForum het die verskoning egter nie aanvaar nie en vir ’n lasbrief vir sy arrestasie aansoek gedoen, wat tot 29 April 2019 oorstaan. Die hele proses is vertraag weens Chauke se versuim van vier maande lank om aan hierdie dagvaarding gehoor te gee. Mokolobate het wel in die hof verskyn en ooreengekom dat hy op 10 April sy verklaring by die ondersoekbeampte in die saak by die privaatvervolgingskantoor sal aflê. Indien hy nie hierdie ooreenkoms nakom nie, sal die verrigtinge op 29 April voortgaan.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid gaan Modise namens die NDBV op ’n aanklag van dieremishandeling vervolg. Chauke en Mokolobate het geweier om verklarings aan die privaatvervolgingseenheid te gee, maar is ingevolge artikel 205 gedagvaar om hul verklarings af te lê. Artikel 205 is veral daarop gemik om persone wat oor inligting oor ’n beweerde misdaad beskik, maar dit nie aan die ondersoekers wil openbaar nie, te dwing om die inligting te verskaf.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom hierdie wending in die saak, wat beteken dat ons nou nóg ’n stap nader is daaraan om Thandi Modise voor die hof te kry. Hoewel ons hierdie proses al vantevore gevolg het, bly dit uniek in Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis dat getuies in ’n privaat vervolgingsaak ingevolge artikel 205 gedwing word om verklarings af te lê. Die privaatvervolgingseenheid het ’n baie sterk saak teen Modise en dit is een van ons hoofoogmerke om te verseker dat geen persoon vervolging vryspring bloot omdat hulle weens politieke verbintenisse beskerm word nie,” sê Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.
“Die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte ontvang van een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het. Modise se plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke. Die oorlewende diere, insluitend varke, skape, hoenders en bokke, is sonder kos en water gelaat en was in ’n desperate toestand. Die NDBV moes 162 diere weens hul nypende omstandighede van kant maak,” sê Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se plaasdierebeskermingseenheid.

Chauke was tydens die pleging van die beweerde misdaad Modise se raadgewer en is nou president Cyril Ramaphosa se raadgewer. Mokolobate is ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en was tydens die pleging van die beweerde misdaad hoof van Modise se sekuriteit.

Soortgelyke plasings