| |

AFRIFORUM: DWS MÓÉT TOETREE EN SUKKELENDE MUNISIPALITEITE HELP MET WATERDIENSTE

AfriForum is van mening dat die Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie (DWS) nie weet wat hul rol op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak is nie en hulself herhaaldelik weerspreek. Dit volg nadat Sputnik Ratua, woordvoerder van DWS, gesê het die DWS kan nie op nasionale vlak in Hibberdene toetree nie en dat dit die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) se verantwoordelikheid is. Minder as ’n maand gelede het Lindiwe Sisulu, Minister van DWS, egter aangekondig dat haar departement ingevolge Artikel 63 van die Waterwet die bestuur van die waterdienste van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gaan oorneem.

Die departement kan nie hande gevou sit en toekyk nie, hulle bly die verantwoordelike departement vir water ongeag wat in munisipaliteite aangaan. Die departement het ook einde 2020 die afvalwatersuiweringsaanleg (Wastewater Treatment Works) terugbesorg aan Randwest Plaaslike Munisipaliteit nadat dié munisipaliteit die aanleg so agteruit laat gaan het dat AfriForum strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder moes indien. Die saak word op 19 Maart in die Randfontein Landdroshof aangehoor.

AfriForum het verlede week reeds ’n brief aan Sisulu gestuur om die waterkwessie in Hibberdene onder die loep te neem en wag steeds vir terugvoer vanaf die minister.

“Die grootste probleem wat ondervind word, is dat nie een van die nasionale departemente verantwoordelikheid wil neem vir die probleme wat in munisipaliteite ondervind word nie en wys altyd die vinger na ’n ander pleks daarvan om net die probleem op te los,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Volgens De Klerk word munisipaliteite ook nie verantwoordelik gehou vir die nienakoming van hul pligte nie. Die minister werp gereeld lig op die groot kwessies en hoeveel geld hulle daaraan gaan bestee (soos byvoorbeeld by die Vaalrivier), maar nêrens word die skuldige partye verantwoordbaar gehou nie en daar word ook geen melding oor die gevolge vir dié partye gemaak nie.

“AfriForum het in 2018 al strafregtelike klagtes oor die besoedeling in die Vaalrivier teen die verantwoordelike partye ingedien wat nie hul pligte nagekom het, asook in 2016 oor die waterkwessies in Randfontein. AfriForum het in sowel 2019 as in 2020 ’n vergadering versoek met die minister, maar dit het op dowe ore geval,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings