|

AfriForum eer dr. Duncan Prinsloo se nagedagtenis vir sy stryd teen en bewusmaking van plaasmoorde

Dr. Duncan Prinsloo (75), bekende veearts en boer van Vaalbank buite Bronkhorstspruit wat in 2008 ’n wrede plaasaanval oorleef het, is vandeesweek aan kanker dood.

Sy dood word deur AfriForum betreur wat oor baie jare ook ’n pad met hom gestap het in die stryd teen en vir die bewusmaking van plaasaanvalle en –moorde.

Prinsloo het in Februarie vanjaar nog getuig in ’n hofsaak van AfriForum teen Julius Malema en die EFF oor haatspraak en die sing van die lied “Kill the Boer”.

Hy was bereid om AfriForum te help ondanks sy eie emosionele en fisiese pyn wat hy ná jare steeds saamgedra het. Sy geliefde vrou, Letitia, is in die aanval doodgeskiet en hy is gedeeltelik in die onderlyf verlam gelaat weens ’n koeël wat hom in die rug getref. Die egpaar was 34 jaar getroud en Prinsloo moes ná die aanval noodgewonge met krukke oor die weg kom.

Dr. Prinsloo het in Februarie vanjaar nog getuig in ’n hofsaak van AfriForum teen Julius Malema en die EFF oor haatspraak en die sing van die lied “Kill the Boer”.

Hy het bewoë getuig dat elke keer wat hy die lied “Kill the Boer” hoor, hy herinner word aan wat hy en sy gesin in die aanval verloor het en hoe dit hul lewens onherroeplik verander het. Hy het egter ook getuig dat hy dankbaar is dat hy ’n Christen is en dat hy diegene kon vergewe wat dit aan hom gedoen het.

In 2017 het Prinsloo in Pretoria saam met meer as 1 500 mense aan ’n gesamentlike optog teen plaasmoorde deelgeneem wat AfriForum, Solidariteit, TLU SA en opposisiepartye (die DA, VF Plus en Cope) georganiseer het.

Tydens dié optog het Prinsloo ook Malema en sy party veroordeel en gesê hul uitlatings hits plaasaanvalle en –moorde aan. Hy het ’n pleidooi gelewer dat Suid-Afrikaners teen plaasmoorde moet saamstaan, want “anders weet ek nie waar voedsel in die toekoms vir die land vandaan gaan kom nie,” het hy gesê.

In 2015 het ’n baie emosionele toneel op Prinsloo se plaas afgespeel toe hy Duncan Nyawo, ’n stapper teen plaasmoorde, ontmoet het. Prinsloo het Nyawo destyds bewoë bedank vir wat hy doen en dat hy vir boere opstaan.

Nyawo het op sy beurt gesê hy is jammer oor wat met Prinsloo gebeur het en dat wat besig is om in die land te gebeur, verkeerd is.

Dr. Prinsloo ontmoet Duncan Nyawo, ’n stapper teen plaasmoorde.

Benewens die feit dat Prinsloo deurentyd ’n stem teen plaasmoorde en –aanvalle was en met talle slagoffers se verlies en pyn kon identifiseer, het hy ook as veearts ’n onuitwisbare bydrae in die land gelewer.

Christiaan de Jager, ook ’n boer en jarelange vriend van Prinsloo, sê hy was ’n voorloper en die werk wat hy gedoen het en sy nalatenskap is onvervangbaar. “Hy was een van die eerste twee veeartse in die land wat embrio-oorplasings in beeste, spesifiek die Hommo Dykema Afrikaners en Boschveldt Beefmasters, gedoen het.”

Die eerste Afrikanerkalf in die wêreld wat gespoel is, is afkomstig van die Dykema Afrikanerstoet. Prinsloo hou steeds die wêreldrekord vir die meeste embrio-kalwers wat uit ’n enkele spoeling gekry is met ’n Beefmasterkoei. Daar is 64 embrio’s gespoel waarvan 48 oorgeplaas is en 24 kalwers gebore is.

 “Tydens die reproduksie- en embriowerk wat hy saam met my gedoen het, het hy op die Chianina-beesras verlief geraak. Hy het deel van die O-La-La Chianina-droom geword en die grootste bydrae tot die ontwikkeling van die ras se genetika in Afrika gelewer. Hy was ook saam na Italië waar die beste genetika gespoel is en deur sy hande gegaan het,” sê De Jager.

Prinsloo het ook in 1986 geskiedenis gemaak toe die heel eerste embrio-oorplasing in perde in Suid-Afrika gedoen is.

De Jager, wat 20 jaar met hom bevriend was, sê wat hom ook altyd sal bybly is dat Prinsloo ’n man van God was. “Hy het baie keer gesê die feit dat hy alles wat met hom gebeur het agter hom kon sit, het hom in staat gestel om aan te gaan en produktief te bly lewe.”

AfriForum se traumaeenheid is in 2015 gestig om slagoffers van plaasmoorde en –aanvalle by te staan. Om dié werk te kan voortsit is fondse nodig. Die eenheid bied op 19 Augustus om 18:30 ’n ambassadeursfunksie ten bate van slagoffers in AfriForum Teater in Pretoria aan. Appel is die gaskunstenaar en kaartjies vir die vertoning kos R150 per persoon. Besprekings kan gedoen word by www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings