| |

AfriForum eis antwoorde by Valke oor oudburgemeester

AfriForum het ’n skriftelike navraag aan die provinsiale kommissaris van georganiseerde misdaad in KwaZulu-Natal gerig om navraag te doen oor die status van die ondersoek teen ’n vorige burgemeester van Newcastle. Dít volg nadat AfriForum in 2016 ’n strafregtelike klag by die SAPD ingedien het oor onreëlmatige aankope van drie kragopwekkers waarby die destydse burgemeester Afzul Rehman en ’n lid van sy familie geïmpliseer word.

AfriForum se Newcastle-tak het ’n forensiese ondersoeker aangestel om dié bewerings te ondersoek. Die ondersoeker het ’n dossier saamgestel wat verskeie verdagte transaksies in die Newcastle Plaaslike Munisipaliteit uitwys en dit aan die Valke oorhandig.

“Ons het dié saak na adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, se kantoor verwys omdat daar ná meer as drie jaar steeds geen formele strafregtelike saak geopen is nie. Ons hoop dat geregtigheid mettertyd sal geskied,” sê Peet Liebenberg, ondervoorsitter van AfriForum se Newcastle-tak.

“Ons sien daagliks hoe belastinggeld vermors word in selfverryking van politici en hul vriende. Korrupsie plaas plaaslike owerhede en ander sektore van die regering onder finansiële druk en ondermyn die lewering van basiese dienste aan gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum en sy privaatvervolgingseenheid sal aanhou om druk toe te pas om te verseker dat oneerlike en korrupte amptenare vervolg word.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings