AfriForum eis antwoorde ná polisiegeneraal sy wapen kwyt is

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 16 September 2019 ’n skrywe gerig aan Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en daarop aangedring dat ondersoek ingestel word na die beweerde nalatigheid van genl. Risimati Shivuri, Noord-Kaapse polisiekommissaris, nadat sy diensvuurwapen glo gesteel is.

Die media het verlede week berig dat Shivuri na bewering nalatig was deur sy diensvuurwapen by ’n karwassery in sy voertuig agter te laat. Die vuurwapen is na bewering uit die voertuig gesteel. Daar is boonop berig dat Shivuri ten tyde van die voorval na bewering nie ’n geldige permit vir die vuurwapen gehad het nie. Vier verdagtes is intussen in dié verband in hegtenis geneem.

“Ons eis ’n behoorlik ondersoek wat daadwerklike antwoorde sal oplewer. Indien die vuurwapen wel verlore gegaan het soos daar beweer word, is dit beslis ’n strafregtelike oortreding,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

“Die Wet op die Beheer van Vuurwapens is op almal in die land van toepassing: van gewone burgers tot generaals. Niemand is bo die reg verhewe nie. Die daargestelde sanksies moet by skuldigbevinding in werking tree,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder by gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings