AfriForum eis beëindiging van nasionale aandklokreël

AfriForum se regspan het vandag ’n aanmaningsbrief aan Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, gestuur waarin die organisasie aanvoer dat die voortdurende implementering van die aandklokreël as deel van die nasionale ramptoestand irrasioneel en ongeregverdig is. Suid-Afrika is sedert 15 Maart 2020 in ’n ramptoestand.

In die brief aan die minister het AfriForum die volgende versoek: 

  1. Dat redes skriftelik verskaf moet word oor waarom daar ’n nasionale aandklokreël ingestel is sowel as bewyse ter ondersteuning van die effektiwiteit van die aandklokreël as voorsorgmaatreël teen COVID-19.
  1. Dat die dokumente en ondersteuningsdokumente, deskundige verslae, bewyse en data wat die besluit om ’n aandklokreël in te stel ondersteun, beskikbaar gemaak moet word .
  1. Dat die implementering van die nasionale aandklokreël summier beëindig moet word.

AfriForum het die minister versoek om op 19 November voor die einde van die werksdag op die brief te reageer.

“Die voortdurende afdwing van aandklokreëls op die publiek is onaanvaarbaar en nie gegrond in feitlike bewyse nie. Daarom tree AfriForum in om hierdie irrasionele besluit te stop. Indien AfriForum nie ’n reaksie op die bogenoemde datum ontvang nie, sal die organisasie verplig wees om die Hooggeregshof te nader om die verdere implementering van ’n aandklokreël  te verbied, hangende die departement en minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se voorsiening van die aangevraagde data, ondersteunende bewyse en redes,” sê Jacques Broodryk, bestuurder van veldtogte by AfriForum.

Soortgelyke plasings