|

AfriForum eis daadwerklike aksie teen gearresteerde Guptas en korrupsie

AfriForum verwelkom die inhegtenisneming van die Gupta-broers Atul en Rajesh Maandag in Dubai. Hierdie arrestasie is ’n stap in die rigting van geregtigheid, maar daar is nog ’n lang pad wat voorlê en AfriForum het ’n paar eise wat geregtigheid sal help seëvier.

Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate het in April 2021 ’n uitleweringsooreenkoms onderteken, maar dit is nog nie duidelik of die inhegtenisneming tot die broers se terugkeer na Suid-Afrika sal lei nie. AfriForum eis dus dat die Gupta-broers hul dag in die hof sal kry in Suid-Afrika en dat ’n behoorlike ondersoek na die bande tussen die Guptas en Suid-Afrikaanse politici gedoen word. Die Guptas kan ook nie toegelaat word om op ’n twyfelagtige manier weg te glip nie, dus moet die situasie deeglik gemonitor word.

“Die land word al vir jare deur ongekende vlakke van korrupsie lam gelê en miljoene het al moedeloos geword met die gebrek aan skuldiges wat gevolge dra vir hul lang vingers,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Hoe langer korruptheid ongestraf voortgaan in Suid-Afrika, hoe meer verloor die bevolking vertroue dat die regering enigsins in staat is om korrupsie te beveg. Die arrestasie van die Guptas moet ’n beginpunt en nie ’n eindpunt wees nie. Daarby moet die ernstige onlangse beskuldigings teen president Cyril Ramaphosa óók behoorlik ondersoek word. Daar kan op meer as een hoëprofiel-korrupsiesaak op ’n slag gefokus word. Dit is hoogtyd dat korrupsie vasgevat word, ongeag die profiel, politieke faksie of posisie van die beskuldigde(s).”

Soortgelyke plasings