| |

AfriForum eis dat belastingbetalers se geld terugbetaal moet word

AfriForum het op 11 November 2021 ’n skrywe aan die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit gestuur en geëis dat gemeenskapslede wat van privaat kontrakteurs gebruik maak om hul septiese tenks leeg te suig se munisipale rekening aangepas moet word. Dit volg nadat AfriForum ’n kontrakteur aangestel het om die inwoners in Hertzogville te help nadat die munisipaliteit vir weke aaneen nie die septiese tenks by mense se huise gaan leegpomp het nie.

In die skrywe eis AfriForum dat die geld wat inwoners aan die privaat kontrakteur betaal het van hul munisipale rekening afgetrek moet word. Die organisasie eis ook dat die munisipaliteit die geld wat AfriForum aan die kontrakteur bestee het, moet terugbetaal.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsake in die sentraalstreek, betaal inwoners vir die diens, maar weens swak bestuur word die diens nie gereeld gelewer nie. “Die gemeenskap is geregtig op goeie dienslewering veral aangesien hulle maandeliks betaal daarvoor. Die munisipaliteit is gou om inwoners te laat weet as hulle rekeninge agterstallig is, maar hulle kan vir weke aaneen nie dienste lewer nie en die gemeenskap moet dit net aanvaar. Die munisipaliteit versuim om hulle pligte na te kom soos uiteengesit in die wet en daarom is dit tyd dat hulle inwoners die keuse gee om eerder gebruik te maak van privaat kontrakteurs om die werk gedoen te kry.”

Grobbelaar voeg ook by dat inwoners nou dubbel betaal vir die diens omdat die munisipaliteit nie die diens volhoubaar lewer nie. “Inwoners wat wil verhoed dat die drein in hul erf nie oorloop nie, betaal nou dubbeld sodat die dreine leeggepomp kan word. “Dit is onregverdig en onbillik om dit van inwoners te verwag en daarom moet die munisipaliteit die inwoners wat van privaat kontrakteurs gebruik maak se rekeninge aanpas sodat hulle nie twee keer vir hierdie diens betaal nie. AfriForum sal voortgaan om inwoners te ondersteun deur van die privaat kontrakteur gebruik te maak. Mense wat van dié diens gebruik wil maak, kan 072 635 8074 skakel om die nodige inligting te kry.

Soortgelyke plasings