AfriForum eis dat Centurion-grondeis sonder uitbetaling afgekeur word


AfriForum het vyf deskundiges en ’n senior advokaat aangestel om verslae saam te stel ten einde ’n voorlegging, wat die onlangse Centurion-grondeis betwis, aan die grondeisekommissie te stuur. Die burgerregte-organisasie wil onder meer verhoed dat die eisers enige geldelike vergoeding vir die ongegronde eis ontvang.

AfriForum en ReThRo staan dié grondeis teen. Dit is in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer, behels ongeveer 4 000 hektaar grond en raak nagenoeg 2 000 huisgesinne.

“AfriForum wil hiermee ’n duidelike boodskap aan die owerhede stuur dat grondeise behoorlik ondersoek moet word voordat dit in die Staatskoerant gepubliseer word en mense onnodig paniekerig maak. Dit is ook uiters onbillik dat die belastingbetaler vir die oorweging van vals eise moet opdok. AfriForum se spesialisspan sal onder meer die geskiedenis van hierdie grond indringend ondersoek om te bevestig dat die grondeis nie kan slaag nie en dat enige uitbetaling aan die eisers ongeregverdig is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Indien die kommissie weier om die eis af te keur, sal die organisasies hulle tot die hof wend. AfriForum sal ook voortgaan om sowel die betrokke gemeenskap as die belastingbetaler se belange te beskerm. Belastingbetalers kan nie die las dra omdat die staat opportunistiese grondeise soos hierdie nie summier afkeer nie,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder van AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.

Dra tot AfriForum se regsfonds by om hierdie eis teen te staan en sowel eiendomsreg as jou belastinggeld te beskerm: Besoek http://bit.ly/2SbLiVz om ’n bydrae te maak.

Soortgelyke plasings