| |

AFRIFORUM EIS DAT MANTASHE NUWE PERK VIR PRIVATE KRAGOPWEKKING BEKRAGTIG

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n beroep gedoen op Gwede Mantashe, minister van Minerale Bronne en Energie, om die nuwe 100 MW perk vir private kragopwekking sonder ’n lisensie te bekragtig. Indien nie, moet president Cyril Ramaphosa hom dwing om dit te doen.

Ramaphosa het reeds langer as twee maande gelede dié perk aangekondig en die verwagting was dat die aangepaste regulasies van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit in die Staatskoerant gepubliseer sou word.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê dit is onaanvaarbaar dat hierdie belangwekkende stap so lank vat. “Daar was onlangs ’n ontploffing by Medupi en die land lewe onder ’n permanente swaard van kragonderbrekings. Vanjaar was sover een van die moeilikste jare wat beurtkrag betref en dit hou broodnodige ekonomiese groei en werkskepping terug,” sê Brink.

“Eskom het self gesoebat dat hierdie perk verhoog word sodat die druk op hulle opwekkingsvermoë verminder. Die president het immers die aankondiging hieroor gemaak en daar moet dus daaraan voldoen word. Indien nie, moet Ramaphosa begin druk op Mantashe toepas om sy werk te doen. Hierdie sloerdery en die weiering om enige verskonings daarvoor te gee is onverantwoordelik.”

Volgens Brink is die huidige lisensiëring van private kragopwekking moeisaam. “’n Hoër perk kan die administratiewe las verlig omdat veel minder aansoeke dan goedgekeur moet word.”

Soortgelyke plasings