AfriForum eis dat minister van Polisie, Bheki Cele, onmiddellik afgedank word

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag geëis dat president Cyril Ramaphosa die minister van Polisie, Bheki Cele, onmiddellik uit sy pos ontslaan. As ’n organisasie, en die meer as 300 000 lede wat AfriForum verteenwoordig, is die organisasie diep bekommerd oor die optrede en mislukkings van Cele.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die afgelope twee jaar meer as 1 300 speurders verloor het. In ’n land waar 67 mense daagliks vermoor word, is dit onaanvaarbaar dat hierdie personeel nie vervang is nie.

In nog ’n skokkende voorval by ’n gemeenskapspolisiëringsvergadering in Gugulethu, het Cele herhaaldelik vir die leier van ’n burgerregte-drukgroep, wat hom gekritiseer het, geskree “shut up!” en “get out!”.  Die betrokke leier is toe met geweld deur SAPD-beamptes uit die openbare vergadering verwyder. Hierdie ontstellende voorval was slegs die jongste in ’n lang lys van voorvalle en mislukkings, wat AfriForum in hul brief uiteensit, wat Cele se ongeskiktheid vir sy posisie demonstreer.

Voeg hierby dat Cele in 2020 ook op ’n vergadering van die boeregemeenskap in Normadien teen besorgde landsburgers uitgevaar het. Cele is die afgelope paar dae ook na bewering betrek by ’n 2010 Fifa Wêreldbeker-akkommodasietenderskandaal van R47 miljoen.

In 2012 het die Openbare Beskermer bevind dat Cele, wat destyds polisiekommissaris was, skuldig was aan onbehoorlike gedrag en wanadministrasie met betrekking tot ’n huurkontrak van R500 miljoen vir die Sanlam Middestad-gebou in Pretoria, en ’n raad van ondersoek het Cele ongeskik vir sy amp bevind, wat gelei het tot sy skorsing. Hierdie is slegs ’n paar voorbeelde op Cele se groeiende lys van mislukkings.

“Bheki Cele het al keer op keer gewys dat hy nie die vaardighede en temperament het om sy kritieke posisie te vul nie. Ministers wat nie opgewasse is vir hul posisies nie, het lank genoeg misluk en hulle growwe wangedrag het vir lank genoeg ongestraf verby gegaan,” sê Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum.

“Hoe is die misdadigers van hierdie land veronderstel om ’n minister van Polisie te vrees wat so maklik sy humeur verloor en op besorgde burgers skree? Die mense en gemeenskappe van Suid-Afrika verdien baie, baie beter,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings