AfriForum eis duidelikheid van SAID oor ANC se R102 miljoen onbetaalde belastingskuld

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister ’n PAIA-aansoek ingedien by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) waarin die organisasie onder meer die belastingrekords en opgawes van die ANC sedert 1994 eis. Die organisasie vra ook of die ANC voorkeurbehandeling in hierdie opsig geniet. Dit volg ná berigte dat die SAID ’n betaling van R102 miljoen van die ANC eis vir onbetaalde belasting.

In Desember 2021 het die Gautengse Hooggeregshof ’n siviele uitspraak uitgereik waarin die balju opdrag gegee is om bates ter waarde van sowat R102 miljoen in 10 dae te belas. Die ANC het 346 personeellede in diens by Luthuli Huis, maar het vir jare geen werknemerbelasting, WVF, of die vaardigheidsontwikkelingsheffing aan die SAID betaal nie hoewel dit van personeel se salarisse verhaal word.

In hierdie PAIA-aansoek eis AfriForum die volgende:

  1. Die belastingrekords en opgawes van die ANC van 1994 tot vandag.
  2. Die volle agterstallige bedrag, indien enige, wat deur die ANC aan die SAID verskuldig en betaalbaar is.
  3. ’n Aanduiding van die stappe wat die SAID gedoen het om die uitstaande bedrag van die ANC in te vorder.
  4. Indien die SAID nog nie formele stappe gedoen het nie, dat hulle redes sal verskaf vir die versuim om dit te doen.
  5. Om ’n aanduiding te gee of die ANC voorkeurbehandeling geniet in belastinginvorderingsake en, indien wel, dat wettige en rasionele gronde vir hierdie behandeling verskaf word.

In September 2021 het AfriForum ’n brief aan Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID gestuur waarin besonderhede versoek word oor die R102 miljoen wat die ANC aan die SAID skuld. Geen antwoord is ontvang nie en daarom neem AfriForum die volgende regstappe.

“Al skuld die ANC meer as R102 miljoen aan belasting, wil hulle steeds vir die publiek preek oor waarom hulle belastinggeld ’n skenking van R50 miljoen aan Kuba moet finansier,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die net span stywer om die ANC. In Maart kon AfriForum die ANC se skenking aan Kuba stopsit, en nou gaan ons veg om duidelikheid oor hierdie saak aan die publiek te gee,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings