|

AfriForum eis geregtelike ondersoek ná dood van Senzo Meyiwa

 

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het namens die Meyiwa-familie geëis dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n formele geregtelike ondersoek na die dood van Senzo Meyiwa aanbeveel.

AfriForum en die Meyiwa-familie het verlede maand aangekondig dat die organisasie die Meyiwa-familie gaan verteenwoordig. Nel is aangestel as die Meyiwa-familie se advokaat in die ondersoek na die dood van dié voormalige Bafana Bafana-kaptein.

“Die geregtelike doodsondersoek sal aan Nel en belanghebbende partye die geleentheid gee om die getuienis in die hof te toets en getuies onder kruisverhoor te neem. Dit sal die landdros help om te bevind wie vir Meyiwa se dood verantwoordelik was. Unieke sake verg unieke oplossings en AfriForum hoop dat hierdie ondersoek uiteindelik tot vordering in die saak sal lei,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Nel en sy span het besluit om dié regsroete te volg in die lig daarvan dat vervolging nie op bestaande getuienis gedoen kan word nie en omdat daar klaarblyklik relevante inligting van familielede is wat die ondersoekbeamptes nie in die dossier vervat het nie. “Ons glo die moord kan net opgelos word deur te kyk na wat op daardie dag in 2014 in die huis gebeur het en nie op grond van bewerings van rowers wat ingekom het nie,” meen Nel.

Sifiso Meyiwa, broer van Senzo, sê “ons glo dat die geregtelike doodsondersoek sal verseker dat geregtigheid geskied en dat my broer se moordenaars tot verantwoording gebring kan word. Ons is trots om met AfriForum verbind te word en is bly dat die organisasie die nodige stappe doen om uiteindelik vordering in die saak te bewerkstellig. Ons doen weer eens ’n beroep op Suid-Afrikaners om saam met ons te staan om ongeregtigheid te beveg.”

Nel het op die mediakonferensie ook terugvoer gegee oor nuwe verwikkelinge in die sake teen Nomgcobo Jiba, voormalige nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging en Julius Malema, leier van die EFF.

AfriForum het reeds in 2017 aangekondig dat hy namens genl. Johan Booysen privaat vervolging teen Jiba wil instel. Die NVG het verskeie ongegronde verskonings aangebied waarom die hof se beslissing – dat die saak weer op die rol geplaas moes word –  nie in werking gestel is nie.

AfriForum het op 5 Desember 2019 ’n brief aan die NVG gestuur waarin die organisasie eis dat daar binne 14 dae ’n besluit oor die vervolging van Jiba geneem moet word. Indien die NVG nie ’n besluit neem nie, sal die organisasie ’n mandamus-aansoek indien om die NVG te dwing om ’n nolle prosequi-sertifikaat uit te reik. AfriForum was reeds suksesvol met ’n soortgelyke aansoek toe die NVG ter elfder uur ’n beslissing in die On-Point-saak teen Malema gemaak het.

“Daar is geen rede waarom die NVG nie nou ’n finale besluit oor die uitreiking van ’n nolle prosequi-sertifikaat kan neem nie. Ons is gereed om te vervolg sodra die sertifikaat uitgereik word,” sê Nel.

Wat Malema en die  On-Point-saak betref, sal die privaatvervolgingseenheid privaat vervolging oorweeg indien die NVG weier om Malema op aanklagte van bedrog, korrupsie of geldwassery te vervolg. Die NVG het op 19 November 2019 by monde van adv. George Baloyi, waarnemende direkteur van openbare vervolging in Pretoria, aangekondig dat hulle Malema nie gaan vervolg vir die beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery wat met die On-Point-skandaal verband hou nie. Baloyi het aangedui dat hulle ná die aanvanklike verhoor ’n besluit oor Malema se vervolging sal neem. Dié besluit is geneem nadat AfriForum aangekondig het dat sy eenheid ’n mandamus-aansoek op die NVG en die minister van justisie beteken het om die NVG deur die hof te dwing om ’n besluit oor die vervolging van Malema te neem.

Volgens Nel het AfriForum in ’n skrywe breedvoerig aangedui waarom die besluit om Malema nie te vervolg nie irrasioneel en strydig met die getuienis is. Die NVG word versoek om die irrasionele besluit in heroorweging te neem.

“Die privaatvervolgingseenheid is juis gestig om toe te sien dat die beginsel van gelykheid voor die reg gehandhaaf word en dat daar geen selektiewe vervolgings is nie. Die huidige besluit herinner aan die besluit om nie voormalige pres. Jacob Zuma saam met Schabir Shaik aan te kla nie – wat katastrofiese gevolge gehad het,” sê Kriel.

Wat verwikkelinge in ander sake betref:

  • Julius Malema het op 20 November in die hof verskyn vir die aanranding van ’n senior polisiebeampte tydens Winnie Mandela se begrafnis. Hy het ook op 27 November verskyn op aanklag van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen.
  • Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, verskyn op 24 Maart 2020 op aanklagte van dieremishandeling.
  • Tom Moyane, voormalige hoof van die SAID, verskyn op 5 Mei 2020 op klag van aanranding.

 

 

Soortgelyke plasings