| |

AfriForum eis Lesufi se afdanking: Oorhandig versoek aan premier se kantoor en lê klag by polisie

AfriForum het vandag ’n brief aan die Gautengse premier David Makhura oorhandig waarin die afdanking van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, geëis word. Volgens Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, volg die eis ná ’n jarelange geskiedenis van wanbestuur en die verdeling van gemeenskappe deur die LUR.

“Dit is ’n skande dat die premier toelaat dat Lesufi steeds sy amp beklee ten spyte van die skade wat hy die Gautengse onderwysstelsel en verhoudinge in die land reeds aangedoen het. Die skoletoelatingsproses is chaoties en hy aanvaar nie aanspreeklikheid vir sy aandeel daaraan nie ‒ inteendeel, sy jongste aankondigings van sogenaamde oplossings vererger die situasie net verder aangesien dit onuitvoerbaar is en ouers van die reg ontneem om self oor die plek, gehalte en taal van hulle kinders se onderrig te besluit,” sê Maree.

AfriForum se omvattende veldtog teen Lesufi se vergrype sluit ’n petisie in waar ouers dié organisasie se eis vir sy afdanking deur middel van die webtuiste (www.afriforum.co.za/Lesufimoetval), ’n SMS aan 32782 (R1), of AfriForum se Facebook-blad kan steun.

In aansluiting hierby het AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid vandag strafregtelike klagtes by die polisie ingedien teen Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse onderwysdepartement. Dié klagtes volg op die bevindings van die ouditeur-generaal se 2017/2018-verslag dat meer as R900 miljoen se onreëlmatige uitgawes die afgelope boekjaar deur die departement aangegaan is. Die departement is altesaam skuldig aan meer as R2 miljard se onreëlmatige uitgawes wanneer bedrae van vorige jare bygereken word.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n departement wat daarop toegespits behoort te wees om die jeug van ons land op te lei, massiewe bedrae soos hierdie wanbestee. Lesufi moet verduidelik waarom sy departement volgens hierdie verslag skuldig is aan die wanbesteding van belastingbetalers se geld wat daarvoor bedoel is om kinders te onderrig,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid.

Maree het die publiek aangemoedig om AfriForum se veldtog te steun. “Ons kan nie langer toelaat dat hierdie plasingskrisisse en ander wangedrag jaarliks ten koste van die jeug herhaal nie. Gauteng se skole, ouers en kinders verdien beter.”

Soortgelyke plasings